Die verdagte wat ’n maand gelede glo ’n vrou koudbloedig in die kop geskiet het, is nog steeds soek.
Volgens polisiewoordvoerder, Kaptein Agnus Huma, is die polisie besig met die ondersoek rakende Susan Nel (47) se dood in Oktober.
Susan is langs haar man, Nico (51) in hul motor in Roohuiskraal doodgeskiet.
Volgens Pierre Viviers, voorsitter van die plaaslike gemeenskap-polisiëringsforum vir sektor 2 Wierdabrug, is die verdagte deel van ‘n groep van ongeveer twaalf rowers wat die Phillips-kafee en drankwinkel op die hoek van Panoramaweg en Yelandestraat dieselfde aand geroof het.
Drie doppies van die vuurwapen wat afgevuur was, is op die toneel gevind, het Viviers gesê.
Die egpaar het na dié kafee gegaan om hout en vuuraanstekers te koop.
Hulle albei was reeds in hul voertuig toe ’n groep rowers na hulle aangehardloop gekom het.
Een van die rowers het ’n skoot na die bestuurderkant van die motor afgevuur.
Die koeël het Nico gemis, maar Susan in die agterkop getref.
Susan is per ambulans na Sunninghill-hospitaal geneem, waar sy dood verklaar is.
Volgens Mardi, die egpaar se jongste dogter, het hulle nog geen inligting van die polisie ontvang nie.
Die familie is nog getraumatiseer deur die gebeure en die verlies van ’n vrou, ma en dogter.
“Ons probeer om nie aan die voorval of die verlies van my ma te dink nie. Ons hou onsself besig met ander dinge soos om die familie se besigheid weer van die beenaf te bring,” het Mardi gesê.
Lees ook:

