Rowers skiet man drie keer
'n Man sterk tans aan in die Netcare Montana hospitaal nadat hy Dinsdagaand drie keer in sy huis in Waverley geskiet is.
‘n 47-Jarige man van die Moot sterk tans in die hoësorg-eenheid van die Netcare Montana-hospitaal aan nadat hy en sy vrou vroeër die week in hul huis deur drie rowers oorval is.
Jannie Fourie is Dinsdagaand drie keer geskiet nadat hy en sy vrou Kerry-Ann in Queenswood aangeval.
Volgens Brandon Fourie (20), familie van die egpaar, het die skietvoorval omstreeks 20:30 plaasgevind.
Brandon het aan Rekord vertel dat Jan in die badkamer besig was terwyl Kerry-Ann in die kombuis was.
“Sy was glo op pad na die badkamer toe sy op twee gewapende mans afkom. Sy het dadelik vir haar man geskreeu dat daar iemand in die huis is.”
Jan het op die mans afgestorm en met die mans begin stoei om die wapens te probeer afvat.
“Die skelms het hom drie keer geskiet voordat hulle gevlug het. ‘n Derde skelm het glo in ‘n kar buite gesit en wag.”
Jannie is na die Montana-hospitaal gejaag waar hy verskeie operasies ondergaan het.
Volgens Brandon is die familie steeds erg geskok oor die voorval.
“Dit is baie erg vir die familie. My tannie, Kerry-Ann se pa is Dinsdag oorlede en haar man is dieselfde dag geskiet. Dit gaan darem al beter met hom.”
Polisie woordvoerder adjunk-offisier Hero Gumbu het die voorval bevestig.
“Een verdagte is deur die polisie geskiet en gewond. Hy is op die toneel in hegtenis geneem. Die polisie ondersoek ‘n saak van poging tot moord en gewapende roof, drie ander verdagtes is steeds soek.”
