Die 55-jarige Wally van Jaarsveld is steeds in ’n stabiele, maar ernstige toestand nadat hy op Nuwejaarsdag in die maag geskiet is.
Rekord het Donderdag berig dat Van Jaarsveld deur twee vermeende rowers in sy woning in Suiderberg geskiet is. Die rowers is steeds op vrye voet.
Nella, Van Jaarsveld se vrou en ook ‘n parapleeg, het gesê dat haar man die tralie- en skuifdeur vir hul hond oopgesluit het en rustig voor die televisie verkeer het.
Na ’n ruk wou hy die deur sluit waarna sy ’n hand by die skuifdeur opgemerk het.
“Terwyl die rower die gordyne weggetrek het, het my man na die deur geloop. Albei rowers het die huis binngekom en een van hulle het sy vinger op sy mond gesit om stilte aan te dui,” het sy gesê.
Van Jaarsveld het glo steeds na die deur se rigting geloop terwyl sy vir hom gegil het om te sit sodat die rowers hom nie kan beseer nie.
Die rowers het een skoot afgevuur wat Van Jaarsveld in die maag getref het. Hulle het die klein kaliberpistool op Nella gerig waarna haar man die rowers fisies aangeval het.
“Al wat ek my man gehoor sê het is ‘O nee, nie my vrou nie’. Hy het hulle toe aangeval waarna ‘n struweling op die stoep uitgebreek het. Ek het my stem hees gegil waarna hulp opgedaag het. Die rowers het weggehardloop,” het Nella gesê.
Van Jaarsveld het na die stryd verby Nella na die badkamer gestrompel. Hy het sy maag vasgehou en in die badkamer inmekaargesak.
“Ek wou druk op sy wond sit, maar hy wou nie gehad het dat ek naby hom kom nie. Ek het so magteloos gevoel omdat ek vasgekeer sit in my rolstoel. Gelukkig het my bure hulp aangebied en die polisie asook die ambulansdienste gebel,” het ’n dankbare Nella gesê.
Hy is deur Best Care-ambulansdienste na Kalafong-hospitaal gehaas waar dokters gesukkel het om sy dik- en dunderm te las. Sy blaas is ook beseer.
“Alhoewel hy tans stabiel is, is hy nog steeds in gevaar. Ek wil ook net van die geleentheid gebruik maak om my dankbaarheid teenoor alle rolspelers uit te spreek wat ons in hierdie tyd bystaan. Dankie aan die Suiderberg-gemeenskap vir hul bystand,” het sy gesê.
Luitenant-kolonel Katlego Mogale, polisiewoordvoerder, het gesê dat daar nog geen arrestasies gemaak is nie.
