Ma en kêrel vas nà beweerde aanranding op kleuter
Die ma van 'n tweejarige dogtertjie en haar 36-jarige kêrel is in hegtenis geneem in verband met die beweerde mishandeling van dié dogtertjie. Die dogtertjie word tans in die hoësorgeenheid van die Steve Biko-hospitaal behandel.

ʼn Tweejarige dogtertjie, in ‘n kritieke toestand, word tans in die hoësorgeenheid van die Steve Biko-hospitaal behandel nadat sy glo mishandel is.
Volgens lt.kol. Katlego Mogale, woordvoerder van die polisie, is die ʼn 20-jarige ma en haar 36-jarige kêrel in hegtenis geneem in verband met die beweerde mishandeling van dié dogtertjie.
“Die kind is op 16 Desember in die sorg van die kêrel gelos en sy is beseer. Daarna is die kind weer op 27 Desember in die kêrel se sorg gelos en het sy glo van ʼn wasmasjien af geval. Die kind is na ʼn hospitaal geneem vir behandeling.”
Volgens Mogale het die dogtertjie die afgelope Maandag inmekaargesak waarna sy in die hospitaal opgeneem om deur ʼn dokter ondersoek te word.
“Terwyl die dokter die dogtertjie ondersoek het, het hy gesien sy het baie kneusplekke en beserings wat nooit voorheen gerapporteer is nie. Die dokter het toe die polisie gekontak.
Die dogtertjie se ma en haar kêrel is in hegtenis geneem en gaan na verwagting Maandag op aanklag van poging tot moord in die Pretoria-Noord-landdroshof verskyn.
Intussen het ‘n storm op sosiale netwerk losgebreek oor dié beweerde aanranding op die dogtertjie. Die dogtertjie het glo onder meer bloeding op die brein en verskeie inwendige beserings opgedoen.
Groepe mense beplan om Maandag buite die Pretoria-Noord-landdroshof met plakkate te betoog.
Die aanranding volg kort nadat die vierjarige Jasmine-Lee Pretorius, verlede week in Brakpan vermoor en verkrag in haar pa se woonstel gekry is.
