
ʼn 20-Jarige ma en haar 36-jarige kêrel sal na verwagting Maandag in die Pretoria-Noord-landdroshof verskyn in verband met die beweerde mishandeling van die vrou se tweejarige dogtertjie.
‘n Klein groepie betogers, in pienk geklee, het Maandag buite dié hof begin vergader in poging om borgtog teen te staan.
“Dit is absoluut onaanvaarbaar veral omdat dit ‘n weerlose dogtertjie is. Almal dra vandag pienk in ondersteuning van die dogtertjie,” het Susan Horn, een van die betogers Maandag buite die hof gesê.
Volgens lt.kol. Katlego Mogale, woordvoerder van die polisie, verskyn die vrou en man op aanklagte van poging tot moord in die hof.
Dié dogtertjie word tans in die hoësorgeenheid van die Steve Biko-hospitaal behandel nadat sy glo mishandel is.
“Die kind is op 16 Desember in die sorg van die kêrel gelos en sy is beseer. Daarna is die kind weer op 27 Desember in die kêrel se sorg gelos en het sy glo van ʼn wasmasjien af geval. Die kind is na ʼn hospitaal geneem vir behandeling.”
Volgens Mogale het die dogtertjie die afgelope Maandag inmekaargesak waarna sy in die hospitaal opgeneem om deur ʼn dokter ondersoek te word.
“Terwyl die dokter die dogtertjie ondersoek het, het hy gesien sy het baie kneusplekke en beserings wat nooit voorheen gerapporteer is nie. Die dokter het toe die polisie gekontak.
Intussen het ‘n storm op sosiale netwerk losgebreek oor dié beweerde aanranding op die dogtertjie. Die kritiek beseerde dogtertjie, het glo onder meer bloeding op die brein en verskeie inwendige beserings opgedoen.
Die aanranding volg kort nadat die vierjarige Jasmine-Lee Pretorius, verlede week in Brakpan vermoor en verkrag in haar pa se woonstel gekry is.
