‘n Vindingryke dief het Maandagoggend’’n domkrag gebruik om toegang tot ’n woonstel in Villieria te probeer kry.
Die ‘slim’ dief is wel in sy spore gestuit toe die huurders weens die lawaai wakker geskrik het.
“My seun het die lawaai by die skuifdeur gehoor en gewapen met ’n hokkiestok, ondersoek ingestel,” het Esbe Matthysen gesê.
Die verdagte het glo daarna oor hul muur gespring en spoorloos verdwyn. Hulle het die domkrag tussen die tralies voor die skuifdeur op die balkon opgemerk.
Volgens Matthysen het rowers reeds op twee vorige geleenthede toegang to hul woning bekom.
“Die eerste keer het hulle al my juwele gesteel en die tweede keer het my seun se vriendin die boef gehoor waarna die verdagte die skrik op die lyf gejaag is,” het sy gesê.
Volgens Matthysen is dit die eerste keer dat sy sien dat ’n dief ’n domkrag gebruik om tot ’n huis toegang te kry.
Sy het gesê hulle beoog om verdere diefwering by hul balkon aan te bring aangesien daar reeds voorheen inbrake was.
