‘n Tweede kleuterskole in die Moot die afgelope week onder diefstal deurgeloop.
Drie vermeende diewe het hulself Dinsdag omstreek 14:00 by die Woelbos kleuterskool in Waverley as moontlike ouers voorgedoen terwyl ‘n vierde verdagte buite in ‘n motor gesit het.
‘n Ouer wat van buite af ingekom het, het onraad vermoed nadat sy dié groep se verdagte voertuig buite dié skool opgemerk het.
“Die ouer het die vroulike verdagte by die ontvangs gevra wat hulle daar soek. Die vroulike verdagte het ‘n selfoon agter die toonbank gegryp voordat die hele spul laat spaander het,” het Louise Meyer, hoof van die kleuterskool gesê.
Volgens Meyer het die blitspatrollie vinnig reageer en binne ‘n halfuur is drie verdagtes vas getrek. Die vierde verdagte het met die selfoon weg gekom.
In ‘n ander voorval Maandag het drie vermeende kriminele die strate ingevaar met twee stootwaentjies vol gesteelde goedere asook ’n grassnyer.
Volgens Elize van Burick, eienaar van die nie-winsgewende dagsorgsentrum Annamarie’s Day Care in Rietfontein, het dié diefstal as ’n groot skok gekom.
Die inbraak het glo omstreeks 18:30 in 21ste Laan plaasgevind net nadat die personeel die dagsorgsentrum verlaat het.
“Ons het ’n oproep ontvang dat daar by ons ingebreek is en ons was net te laat om hulle op heterdaag te betrap,” het sy gesê.
Volgens Van Burick het die verdagtes met twee stootwaentjies, ’n grassnyer en onder andere, speelgoed, skoonskip gemaak.
Die sentrum is ten bate van behoeftige kinders gestig en daar is sowat 60 peuters en Laerskoolleerlinge by die sorgsentrum.
Alhoewel die sentrum ’n verlies ná die diefstal gelei het is Van Burick vol hoop dat hulle weer vinnig op die been sal kom.
“Ek bestuur ’n 24-uur dagsorgsentrum en gelukkig het ek aan die begin van die maand die sentrums geskei van mekaar. Die verdagtes het gelukkig by die sentrum vir dag-kinders ingebreek instede van die nagsentrum. Niemand was by die sentrums tydens die voorval nie en niemand is beseer nie,” het ’n dankbare Van Burick gesê.
Sy het haar dankbaarheid teenoor die Moot-polisie, Kilnerparksekuriteit en MSC vir hul bystand uitgespreek.
