Baba L: Ma se kêrel het skynbaar donker geskiedenis
Verdagte se suster en meer getuig van vorige aggressie.

Die saak van die paartjie wat aangekla word van poging tot moord en kindermishandeling van Baba L is Vrydag weer in die Pretoria-Noord landroshof uitgestel vir verdere ondersoeke. Landdros Pierre Wessels het die saak uitgestel op aanvraag van die paartjie se regsverteenwoordigers, sodat hulle kan antwoord op die staat se bewerings van onder andere beweerde dwelmmisbruik.
Tydens die borgaansoek wat die staat teegestaan het, het die 36-jarige kêrel ‘n beëdigde verklaring afgelê waarin hy gesê het dat hy onskuldig is en dat hy op borg vrygelaat moet word sodat sy besigheid nie daaronder ly nie. In ‘n verklaring deur die beskuldigde se suster, wat die staat voorgelees het, het sy gesê dat haar broer ‘n gewelddadige man is en dat hy op verskeie geleenthede ongeduldig teenoor Baba L was.
‘n Ander verklaring vanaf die beskuldige se huishulp het beweer dat die dogtertjie op verskeie aangeleenthede kneusplekke op haar liggaam gehad het. In sy verklaring het die dokter wat Baba L in die Steve Biko Akademiese Hospitaal ondersoek het gesê dat die dogtertjie nie haar beserings, onder andere ‘n gebreekde skedel, kon opdoen deur van ‘n wasmasjien af te val nie.
Die kêrel se regsverteenwoordiger sê ook dat hy in 2008 ‘n saak van aanranding teen hom gehad het, en dat die man gereeld van adres verander.
‘n Verslag vanaf die polisie het verder beweer dat die paartjie dwelmgebruikers is. Baba L se ma het ingestem om vir ‘n dwelmtoets te gaan.
Intussen spandeer Baba L, wat na bewering in Desember deur haar ma se kêrel mishandel is, haar derde week by die Steve Biko-hospitaal. Dr André van der Walt, direkteur van Kliniese Dienste by die Steve Biko Akademiese Hospitaal, het bevestig dat sy oorgeplaas is vanuit die intensiewe-sorgeenheid na die hospitaal se kindersaal.
“Haar algehele toestand is egter steeds bedenklik,” het Van der Walt gesê. Die paartjie, van die noorde van Pretoria, staan tereg op aanklagtes van poging tot moord en kindermishandeling nadat Baba L vermoedelik in Desember inmekaargesak het en hospitaal toe geneem is. ‘n Dokter het kneusplekke aan die kind se lyf waargeneem wat nie voorheen gerapporteer is nie en het die polisie in kennis gestel.
