Ouers ontsteld oor kleuterskool-hoof se metodes
‘n Storm het losgebars by die Hompie Kedompie kleuterskool in Villieria na ’n bandopname waarin die hoof van dié kleuterskool glo huilende kinders slegsê en vir ure aaneen los om te huil.
‘n Bandopname van huilende kinders by die Hompie Kedompie kleuterskool is die afgelope week op sosiale netwerke vrygestel en is in Rekord se besit.
Johan en Lizette Combrink het verlede week ’n bandopnemer in hul tien maande oue seuntjie, Lian, se skoolsak gepak nadat hulle onraad by dié skool vermoed het.
“Ons kind het vreeslik gehuil elke keer as hy skool toe moes gaan. Hy huil nooit so by ons huis nie en dus het ons onraad vermoed,” het Johan gesê.
Die Combrink-egpaar het na die ses ure bandopname geluister en daarna besluit om hulle kind uit die kleuterskool te haal.
“Ek was baie onsteld om my kind so te hoor huil. Ek het hom dadelik uit die skool gehaal en hom in ’n ander een gesit,” het Lizette gesê.
Op dié bandopname kan daar duidelik gehoor word hoe daar na die kinders as mal en stoutgat verwys word.
“Ja, huil maar, dis reg, lekker huil stoutgat,” is ook duidelik hoorbaar.
Chris Kruger, eienaar van Hompie Kedompie-kleuterskool, het die aantuigings ten sterkste ontken. “Ons bestaan sedert 1990 en het baie gelukkige ouers. Enigiemand is welkom om ons te besoek om te kyk wat die waarheid is.”
Volgens Lizette moet die ouers glo afsprake maak as hulle hul kinders by die skool wil kom afhaal, iets wat Kruger ten sterkste ontken.
“Huidige ouers kan enige tyd toegang tot ons skool bekom. Ons versoek net dat hulle by die kantoor aanmeld vir sekuriteitsdoeleindes,” het hy gesê.
Nicolene van der Merwe, nog ’n ma, het gesê dat sy ’n kopie van die bandopname op ‘n Facebook-blad ontvang het en dat sy haar huilende baba óók op die bandopname herken het.
“Ek het Johan en Lizette se storie op die sosiale netwerke gevolg en baie bekommerd geraak omdat my kind ook in dieselfde klas is. Ek het na die opname geluister en my huilende kind wat snak na sy asem op die bandopname gehoor. Dit was vreeslik erg vir my gewees,” het Van der Merwe gesê.
Sy het ook haar kind uit die skool uitgehaal. Volgens Van der Merwe is dit abnormaal dat haar kind so huil en onaanvaarbaar dat die babas glo geensins getroos word nie.
“Dit is onaanvaarbaar dat hulle my kind ‘stoutgat’ en ‘mal’ noem,” het sy gesê.
Beide die Combrink- en Van der Merwe-egpaar is tans in gespreke met hul prokureurs om moontlik ’n siviele eis teen die kleuterskool in te dien.
“Ons sou verkies het dat die ouers eers met ons oor hulle besware kom gesels het, maar dit is hulle reg om hulle eie keuses te maak. Ons het, nadat die bandopname die sosiale netwerke bereik het, ’n ouervergadering gehad wat baie goed afgeloop het,” het Kruger gesê.
Hy het gesê dat al hulle ouers pal agter hulle staan en vir hulle die nodige ondersteuning gee. “Solank die huidige ouers gelukkig is met ons diens dan is ons ook gelukkig. Soos ons voorheen gesê het, enige ouers is welkom om ons skool te besoek.”
Rekord het dié bandopname aan ’n kinderterapeut, wat verkies om anoniem te bly, oorhandig om sodoende haar professionele mening rakende die bandopname te kry. Geen inligting of bewerings rakende die skool is aan haar bekend gemaak nie.
“Wat ek van die bandopname kan aflei is dat daar geen omgee is nie. Ek sê nie dat daar nalatigheid ter sprake is nie, maar dit grens daarop,” het die terapeut gesê.
Die terapeut het gesê indien babas aanhoudend huil is die onderwysers veronderstel om die kinders te troos. Daar moet na hulle fisiese asook hulle emosionele welsyn omgesien word het.
