Rybewys knoeier in hegtenis geneem op 30 klagtes
’n 51-jarige werklose man van die Pretoriase middestad, wat daarvan verdink word dat hy in sameswering met die verkeersdepartement vals rybewyse uitgereik het, is Vrydag deur die Valke van die polisie op ’n klag van bedrog in hegtenis geneem. Daniel Struwig, het Vrydag op 30 klagtes van bedrog in Hatfield se hof verskyn. Hy het skuldig gepleit …

’n 51-jarige werklose man van die Pretoriase middestad, wat daarvan verdink word dat hy in sameswering met die verkeersdepartement vals rybewyse uitgereik het, is Vrydag deur die Valke van die polisie op ’n klag van bedrog in hegtenis geneem.
Daniel Struwig, het Vrydag op 30 klagtes van bedrog in Hatfield se hof verskyn. Hy het skuldig gepleit en die saak is uitgestel vir verdere ondersoek.
Sy inhegtenisneming volg nadat die polisie drie klagtes ontvang het dat Struwig verskeie bedrae geld van mense ontvang het en hy hulle beloof het dat hy vir hulle maklik ’n leerlingrybewys sowel as ’n rybewys sou bekom.
“Volgens die aangeklaagde het hy noue bande met die verkeersdepartement wat hom in staat stel om teen ’n koste van R800 binne ’n week die nodige dokumente vir die aansoeker te bekom,” het kaptein Paul Ramaloko, nasionale woordvoerder van die Valke, gister gesê.
Hy het gesê dat die polisie enkele minute nadat Groenewald na bewering R2 000 kontant van een van sy slagoffers by Waterkloof ontvang het, op hom toegeslaan het.
“Ons het die hotel waar hy en sy vrou en hul vier kinders die afgelope twee jaar teen ’n koste van R800 per dag tuis gaan, besoek. In sy kamers het ons verskeie afskrifte van identiteitsboeke en foto’s, wat ons vermoed aan sy kliënte behoort, gevind en gekonfiskeer. Hieruit het ons 30 klagtes van bedrog geregistreer,” het Ramaloko gesê.
Op ’n vraag of meer arrestasies verwag kan word van amptenare van die verkeersdepartement of van persone wat van Groenewald rybewyse wou bekom, het hy gesê: “Miskien en miskien ook nie.”
“Dit alles hang af van wat ons ondersoek nog gaan oplewer en van Groenewald se getuienis,” het hy gesê.
