Vierjarige langs pad gelos ná kaping
Kleuter langs die pad gevind nadat haar ouers se voertuig in East Lynne gekaap is.
’n Weerlose vierjarige dogtertjie is langs die pad afgelaai deur vermeende kapers nadat haar ouers se motor in East Lynne op Sondag gekaap is.
Adjudant-offisier Marinda Austine, woordvoerder van die Villieria-polisiestasie, het gesê dat drie verdagtes ’n swart BMW by ’n bekende kettingswinkel in East Lynne gekaap het.
Sy het gesê die pa en ma was binne die winkel terwyl hul 16-jarige en vierjarge kinders binne die motor gewag het.
“Die vermeende kapers het in die motor gespring en weggejaag. Die 16-jarige het daarin geslaag om uit die motor te spring voordat hulle weggejaag het,” het sy gesê.
Gelukkig het die kapers die vierjarige ongedeerd ’n paar blokke van die winkel afgelaai en die kind is weer veilig deur die polisie aan die ouers terugbesorg.
“Dit wil voorkom asof daar geen intensies was om die kind te ontvoer nie, maar ons is tans besig om ’n motordiefstal en ontvoering saak te ondersoek,” het Austine gesê.
’n Ooggetuie wat verkies om anoniem te bly het gesê dat sy polisiesirene en skreeuende brieke op die hoek van Moses- en Jakobusstrate gehoor het. “Daar was groot drama en baie polisie op toneel. Ek het daar gekom net nadat die verdagtes die toneel op voet gevlug het.”
Die polisie het daarin geslaag om die voertuig vas te trek en een verdagte inhegtenis te neem. Austine het gesê die twee ander verdagtes is steeds op vrye voet.
