
Niks kan met die intense vrees vergelyk word soos wanneer jy jou 4-jarige kind agter in ’n gekaapde motor opmerk nie.
Dit is hoe pastoor Hendry Assegaai Sondag gevoel het nadat drie vermeende kapers in sy swart BMW, met sy dogtertjie binne, in East Lynne weggejaag het.
Die Assegaai-gesin het van ’n kerkdiens in Cullinan teruggekeer toe hulle by ’n bekende kettingswinkel in East Lynne gestop het.
Sy vrou, Yolinda, die twee kinders, Raydene (16) en Bernadette (4), het in die motor gewag terwyl hy die stampvol winkel binne is.
Yolinda het glo ongeduldig geraak en na hom in die winkel gaan soek terwyl die kinders in die motor gewag het.
“Toe ons buite kom het Raydene histeries na ons gehardloop en gesê dat ons motor, met Bernadette binne in, gekaap is. Ek was verpletter toe ek die kapers met my kind sien wegry. Ons het dadelik om hulp geroep en ‘n weldoener het gelukkig gestop,” het hy gesê.
Raydene het daarin geslaag om uit die motor te spring voordat die vermeende kapers met die motor kon wegjaag.
Hulle het die swart BMW agterna gesit en ‘n blok verder ‘n huildende Bernadette langs die pad opgemerk. Volgens Assegaai was hy nog nooit só verlig soos toe hy sy 4-jarige kind langs die pad sien staan het nie.
Die weldoener het Assegaai en sy kind terug na die paniekerige ma en dogter geneem wat by die winkel vir hulle gewag het.
“My hele gesin is erg getraumatiseerd, maar ons is dankbaar dat niemand seergekry het nie.”
Die polisie het die BMW in Eersterust vasgetrek en een verdagte is in hegtenis geneem. Volgens adjudant-offisier Marinda Austine van die Villieria-polisie is daar nog twee verdagtes op vrye voet.
