CrimeNews

Drie in hegtenis geneem in SAPS skietvoorval

Drie verdagtes is in hegtenis geneem nadat 'n Mamelodi-polisiekonstabel Saterdag in Eersterust doodgeskiet is.

Drie verdagtes het Maandag na verwagting in die hof verskyn nadat ’n Mamelodi-polisiebeampte op Saterdag in Eersterust dood geskiet is.

Konstabel Sonny Sibanyoni (28) was na bewering deur ’n vlieënier van die Suid-Afrikaanse Lugmag in Eersterust doodgeskiet na ’n beweerde woordewisseling.

Volgens ‘n ooggetuie en familielid van dié vlieënier het die skietvoorval in Bronbergstraat ‘nes ‘n Amerikaanse-rolprent’ afgespeel. Dié ooggetuie het aan Rekord vertel dat dié polisiebeampte omstreeks 06:30 met ‘n ongemerkte rooi Volkswagen Polo in die straat stil gehou het terwyl die verdagte glo in ‘n woordewisseling met ‘n ander inwoner aan die oorkant van die pad betrokke was.

“Die polisieman het sy vuurwapen uitgepluk waarna die vlieënier vir hom geskree het: ‘Skiet my! Skiet my!’ Die polisieman het hom (die vlieënier) toe aan die bors gegryp en dit was toe dat hy die vuurwapen uit die polisieman se hand gegryp en ‘n skoot afvuur wat die polisieman in die hand getref het.”

Nadat die twee mans na bewering ‘n paar keer om die voertuig gehardloop het, het die verdagte glo nog twee skote afgevuur wat die polisiebeampte iewers aan die bolyf getref het. Volgens die ooggetuie het die polisieman daarna in sy voertuig gespring, die vlieënier het glo vir hom geskree om die deur oop te maak.

Nog ‘n ooggetuie en familielid van die vlieënier, het gesê sy het vir hom geskree dat hy die man moet los. Sy het die huis binne gehardloop om die vlieënier se stiefpa, wat hom grootgemaak het, te bel.

“Sy stiefpa het nie geantwoord nie en ná die derde oproep wat ek gemaak het, is die eerste skoot afgevuur.”

Volgens haar het die polisiebeampte op sy sy geval en vir sowat 45 minute in die kar bly lê voor iemand hom glo in ‘n wit privaatvoertuig opgelaai en weggery het. Nog ‘n familielid van die vlieënier beweer dat die polisiebeampte se pa, ook glo ‘n polisiebeampte, by die toneel aangekom en leë patroondoppies begin optel het.

“Hy het ook ‘n tweede vuurwapen, wat in die straat gelê het, opgetel. Toe ek ‘n ander polisiebeampte op die toneel vra wat die man maak, het sy vir my gesê dat dit nie my besigheid is nie. Sy het gesien hoe hy die doppies optel. Ek verstaan nie hoe hy toegelaat was om dit te doen nie, dit is dan ‘n misdaadtoneel. Daar is ook nie eers merkies in die pad gemaak nie.”

Hy was van mening dat die polisie dalk probeer het om die hele storie toe te smeer. Die familie het verder vertel hoe die pa van die polisieman, nadat hy die doppies opgetel het, glo in sy voertuig geklim en van die toneel weggery het.

Hy het glo later in ‘n swart BMW na die toneel teruggekeer en onbedaarlik gestaan en huil. Die rooi Volkswagen wat by die toneel skuins oor die straat gestaan het, se voorruit was gekraak nadat die verdagte dit glo ook met ‘n baksteen stukkend gegooi het.

Die voertuig het geen nommerplate gehad nie, maar dit is glo later onder ‘n sitplek in die voertuig gekry. Die familie het beweer hulle het ook gesien hoe daar handevol patroondoppies, tussen sowat 20 en 30, uit die polisiebeampte se kar gehaal was.

Volgens inwoners op die toneel word die gemeenskap glo gereeld deur lede van die polisie geteister.Volgens nog ‘n ooggetuie, wat verkies om anoniem te bly, is dwelms ‘n groot probleem in Eersterust.

“Dwelms is ‘n baie groot probleem in ons gemeenskap en die vlieënier het Vrydagaand juis dwelms by ‘n klomp mense probeer afvat. Ons was saam op skool en ek ken hom baie goed. Wat hy vandag hier gedoen het was uit selfverdediging,” het die vrou gemeen.

Volgens die vlieënier se familie is hy nie juis ‘n geweldadige man nie en is dit die eerste keer wat hy gearresteer word.

Polisiewoordvoerder, kaptein Johannes Maheso, het bevestig dat die polisiebeampte kort ná die skietvoorval in Die Wilgers-hospitaal aan sy skietwonde beswyk het. “Ons is tans besig is om die saak, asook die bewerings, nog te ondersoek en indien daar enige ooggetuies is moet hulle die Eersterust-polisiestasie besoek en ’n verklaring aflê.”

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button