Wat klaarblyklik die mees ongelooflikste vertonings van eenheid en samewerking tussen verskillende sekuriteitskomponente en die polisie was, het tot die inhegtenisneming van twee geharde kriminele in die Moot gelei.
Die Moot- en Villieria-polisie, die Tshwane-metropolisie, gemeenskapslede, buurtwagte, Secure24 (K9), Kilnerparksekuriteit en Tracker het Maandag met volle mag op twee vermeende kapers in Baviaanspoortweg toegeslaan nadat hulle glo ‘n vrou in Waverley wou kaap.
Johnny Badenhorst, woordvoerder van Secure24, het gesê die spannende jaagtog het op die hoek van Collins- en Trumperstrate begin.
Die vermeende kapers, wat in ‘n gesteelde silwer BMW weggejaag het, het glo talle motoriste se lewens in gevaar gestel soos wat hulle tussendeur die motors gevleg het om die owerhede te ontduik.
Hulle het die verdagtes uiteindelik in Slabbertstraat in East Lynne vasgekeer, maar die beweerde kapers het vinnig uit hul voertuig gespring en skote afgevuur.
Badenhorst het net betyds ‘n niksvermoedende motoris uit die pad gekry voordat die beweerde kapers op haar afgestorm het. “Dit was werklik ‘n toneel uit ‘n rolprent en almal se samewerking het my stom geslaan,” het ‘n dankbare Badenhorst gesê.
Terwyl die verdagtes per voet gevlug het, het die vasberade magte die soektog volgehou deur oor muurheinings te spring en vlieënde koeëls te ontwyk.
Die verdagtes word glo ook aan ander kriminele dade gekoppel.
Volgens Sersant Asnath Malatsi, polisiewoordvoerder, is albei verdagtes vir poging tot moord, die besit van ‘n gesteelde voertuig, ongelisensieerde vuurwapens en ammunisie in hegtenis geneem.
Sy het gesê hulle sal binnekort in die landdroshof verskyn.

