Misdaad wéér in Moot gestuit
Moot-owerhede stuit nóg twee verdagtes in hul spore.

Dit raak by die dag moeiliker vir verdagtes om kriminele dade in die Moot te pleeg veral nadat Moot-owerhede en die gemeenskap hande teen misdaad gevat het.
Na weke se soektog ná ’n beweerde sindikaat wat glo bankkaarte by ATM-tellers kloon en steel, het Secure24 (K9), Kilnerparksekuriteit, Villieria-polisie en gemeenskapslede die misdadigers uiteindelik op Vrydag in East Lynne vasgetrek.
Die jaagtog het in Stormvoëlweg plaasgevind nadat die verdagtes glo nog ’n bankkaart by ’n teller in die Moot wou steel. Die Moot-owerhede het die silwer Volkswagen Polo vasgekeer en een verdagte inhegtenis geneem.
Johnny Badenhorst, woordvoerder van Secure24, het gesê dat een verdagte inhegtenis geneem is terwyl die tweede verdagte te voet gevlug het.
Dieselfde groep wat die verdagtes in hul spore gestuit het, het vroeër die week ook beweerde kapers in Baviaanspoortweg vasgetrek.
Die samewerking tussen die verskillende groepe in die Moot het gewys dat daar met hulle rekening gehou moet word.
