
’n Dapper motorwag van Gezina het ’n noue ontkoming met die dood gehad nadat beweerde motordiewe deur ‘n skuifhek en bo-oor hom gejaag het.
Gert Lindeque (44) se gesig is vol steke en sy longvliesse het geskeur nadat hy Saterdag by Fruit Stop in Frederikastraat, Gezina, ’n poging tot motordiefstal gestuit het.
Volgens ’n ooggetuie was die verdagtes glo gewapen.
“Die ander karoppassers het ‘n bohaai opgeskop toe hulle mans sien wat aan ‘n motor peuter. Ek het na ek die skuifhek geloop en dit toegestoot. Ek het agter die hek gestaan en die wegkomvoertuig, ’n donker blou Volkswagen Polo, het skielik in my rigting verstel,” het Lindeque gesê.
Hy het uit die pad probeer spring toe die Polo dwarsdeur die hek jaag, maar was nie vinnig genoeg nie. Die hek het op hom geval en die motor het bo-oor die hek gejaag.
’n Gekneusde Lindeque het sy bewussyn verloor net voordat sy kollegas die hek opgelig het.
“Ek is na die Tshwane Distrik-hospitaal gehaas waar hulle x-straalplate geneem het. Die slag van die motor en die drukking van die hek het my longvliesse geskeur, maar ek was nog dieselfde dag weer terug by die werk,” het hy gesê.
Hy het gesê dit is nog pynlik, maar dat hy nie kan bekostig om ’n dag van die werk af weg te bly nie.
“Ek is net dankbaar dat ek leef om die storie te vertel. Die Liewe Vader het my werklik beskerm en ek gee alle eer aan Hom,” het ’n dankbare Lindeque gesê.
Luitenant Linda Jerling, woordvoerder van die Moot-polisie, het gesê dat die polisie die beweerde motordiewe agternagesit het, maar dat hulle daarin geslaag het om te ontsnap.
