CrimeNews

Vrou verloor die “beste en wonderlikste” man

’n Bejaarde egpaar is wreed in hul huis aangerand waarna die man doodgeskiet is.

Rina de Villiers (70) ly twee dae nadat haar man, Henk (73) deur rowers doodgeskiet is, nog aan skok. “Dit is asof my gestel nou stil gaan staan het en my gedagtes het afgeskakel. Alles voel so onwerklik,” het sy gesê.

Henk is Sondagoggend doodgeskiet toe vyf rowers hom en sy vrou in hul huis op die grens van Mnandi en Knoppieslaagte-kleinhoewes naby die R114, buite Centurion aangeval het.

Henk is drie keer in sy bors geskiet waarvan een skoot deur sy hart gegaan het. Rina het die aanval oorleef, maar is brutaal aangerand. “My man het gelukkig nie gely toe hy geskiet is nie,” het Rina gesê.

Volgens polisiewoordvoerder Kaptain Bonginkosi Msimango, het die vyf gewapende verdagtes ongeveer 00:30 Sondagoggend deur ’n studeerkamervenster geklim en daardeur toegang tot die huis verkry.

“Ek het 01:20 wakker geword van skote in die huis. Toe ek in die gang afgestap het, het ’n man na my aangestap gekom. My man het alreeds dood op die vloer gelê,” het Rina gesê.

Daar was verskeie koeëls in die mure gevind en alles in die huis is verniel en geplunder.

Rina is deur die rowers rondgesleep terwyl hulle elke vertrek in die huis deursoek het. Nadat die mans klaar was, het hulle haar deur die gebreekte venster waardeur hulle ingekom het, getrek en op die plaveisel neergegooi. Daarna het hulle gevlug.

“Dit het hard gereën en ek het vreeslik koud gekry. Ek kon nie verstaan waarom hulle my deur die venster getrek het nie. Ek het gemaak asof ek bewusteloos was totdat hulle weg is.”

Rina het terug deur die venster geklim en dadelik die buurtwag geskakel. “Hulle het binne enkele minute by die huis aangekom en dadelik beheer oor die situasie geneem.”

Die buurtwag het die nodige mense soos die polisie, nooddienste en familielede gekontak.

Rina is na die voorval na die plaaslike dokter geneem vir ’n ondersoek. Sy het verskeie kneusplekke opgedoen soos wat die rowers haar verrinneweer het. Sy het ook vermoed dat ’n paar ribbes miskien gebreek is.

Die egpaar sou op 1 Maart vir twee jaar op die plot gebly het. Rina het vertel hulle was redelik geïsoleerd – die naaste huis was ongeveer ’n halwe kilometer vêr. Voordat hulle na Knoppieslaagte getrek het, het hulle op ’n kleinhoewe in Raslouw gewoon waar hulle ses jaar gelede ook aangeval is. Henk is verskeie kere in sy bene gesteek en Rina is in die hand geskiet. “Na hierdie aanval het Henk vreeslik skuldig gevoel omdat hy my nie beskerm het nie. Hy het byna obsessief daaroor geword.”

Sondag se aanval het egter ’n dubbele las op Rina geplaas. “Na Sondag herleef ek die vorige aanval en die trauma wat daarmee gepaard gaan. Ek het dus twee traumatiese ervarings wat ek moet verwerk.”

Egpaar sou in Augustus 50 jaar getroud gewees het. Hulle is sedert hul skooldae by die tegniese skool in Worcester gekys. Albei was hoofleiers van die skool en na skool nie mekaar se sy verlaat nie.

Henk en Rina is eienaars van ’n sekuriteitsmaatskappy.

Dié sterk vrou het gesê sy voel skuldig omdat sy nog nie ’n traan gestort het nie. “Almal om my huil vreeslik oor Henk se dood, maar dit het nog nie by my ingesink nie.”

Die egpaar se twee dogters, Helene de Villiers-Schwarzer (43) en Elmien van Dyk (43), woon albei in Centurion. De Villiers-Schwarzer het gesê hulle is so besig met reëlings dat hulle nog nie die gebeurtenisse kon verwerk nie. “Maar ek weet wanneer ons stil staan by my pa se begrafnis sal alles insink,” het sy gesê.

De Villiers-Schwarzer onthou haar as ’n saggeaarde man wat vir haar gewys het wat liefde is. “Dit voel of my pa vir sy sussie in die Kaap gaan kuier het. Hy was my ikoon en held. Soos wat mense bel besef ek hoe geliefd hy was,” het Helene gesê.

Geen begrafnisreëlings is teen druktyd getref nie omdat die lykskouing nog nie plaasgevind het nie.

Die verdagtes het met ’n televisiestel, twee rekenaardrukkers en elektriese toestelle gevlug.

Rina was aanvanklik teensinnig om met die media te praat, maar het gesê dat sy haar verhaal met mense wil deel om moontlik ’n verskil te maak. “As ’n mens ander bewus maak van dit wat om hulle aangaan, kan dit moontlik ’n verskil maak aan die toestand van ons land.”

“Ek dink nie Suid-Afrika verdien hierdie geweld nie – ons bly in so ’n pragtige land,” het Rina gevoeg.

Polisie het bevestig geen arrestasies is tot dusvêr gemaak nie, maar die saak word ondersoek. Polisie het ook ’n beroep op die publiek gedoen om die Olievenhoutbosch-polisiestasie te kontak met enige inligting rakende die voorval wat kan lei tot arrestasies by 012- 52-0083 of Crime Stop by 086-00-10111.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button