Drie voertuie in een aand by skool gesteel
Drie voertuie is Dinsdagaand tydens 'n atletiekbyeenkoms by die Laerskool Danie Malan in Pretoria-Noord gesteel.
Drie motors is Dinsdagaand by ‘n atletiekbyeenkoms, waar honderde kinders en ouers bymekaargekom het, by die Laerskool Danie Malan in Pretoria-Noord gesteel.
Leanda Rheeder van Doornpoort, Shirley Cloete van Kameeldrift en Pieter van Rensburg van Waverley is almal hulle voertuie kwyt nadat diewe op ‘n parkeerterrein in Koos de la Reystraat buite die laerskool toegeslaan het.
Die drie ouers, wie se kinders almal tussen gr 3 en gr 6 is en aan die Laerskool Die Poort skoolgaan, het tussen 19:00 en 19:30, ná afloop van die byeenkoms, opgemerk hul voertuie is skoonveld.
“Ek het geen idee hoe hulle by die bakkie ingebreek het nie,” het Rheeder gesê wat met haar pa se blou Isuzu-bakkie na die skool gery het. “Die deure was gesluit en ek het juis naby die ingang van die skool geparkeer omdat daar heeltyd beweging is.”
Volgens Van Rensburg het hy ook naby die ingang van die skool geparkeer. Hoewel hy versekering op sy Toyota Fortuner uitgeneem het, is sy grootste verlies die derduisende rande se mediese toerusting en sy skootrekenaar wat in sy voertuig was.
“Ek hoop en bid ek kry my motor terug, maar ek sit nie my hart daarop nie. Hier is soveel plekke in die omgewing waar gesteelde voertuie blitsvinnig uitmekaargehaal en as parte verkoop kan word.”
Cloete is nes Van Rensburg seker die dié diewe weet wat hulle doen. “Daar was heeldag twee busse wat aan die oorkant van die pad, naby my voertuig, geparkeer was. Toe ek vir die busbestuurders sê my motor is gesteel kon hulle dit nie glo nie. My motor was gesluit en die alarmstelsel was geaktiveer, tog het dit nie eers ‘n geluid gemaak toe dit gesteel is nie.”
Polisiewoordvoerder Maanda Singo kon nog nie die voorval bevestig nie.
