CrimeNews

Ná ’n soen verdwyn verdagte

Dief gee slagoffer ’n soen op haar lippe voordat hy spoorloos verdwyn.

Met ‘n vleismes in sy hand en ‘n soen op ‘n geskokte 64-jarige inwoner van Silwer-kroon Aftreeoord in Eloffsdal se lippe, het ‘n vermeende inbreker verlede Vrydagaand in die strate van die Moot verdwyn.

Hettie du Plessis en haar vriendin, Christine Kruger, het soos elke ander aand ‘n stappie in die oord gaan neem.
Du Plessis het haar vriendin by haar huis afgesien en op pad terug het twee verdagtes haar oorval en die skreeuende Du Plessis in die huis ingesleep.

“Ek was nog nooit so vreesbevange soos daardie aand nie. My 74-jarige man, Kanie, het gelê en slaap toe die aanvallers my by die huis insleep. Hulle het my opdrag gegee om stil te bly en uit vrees dat hulle my man sal doodmaak het ek doodstil gebly,” het Du Plessis gesê.

Die een verdagte het glo vir die ander een opdrag gegee om buite te wag en Du Plessis vermoed dat die tweede verdagte ‘n uitkyk moes wees.

Die verdagte het haar gevra vir goud en geld waarna sy R100 en juwele ter waarde van R6 000 aan hom oorhandig het. Die geld en die juwele was binne ‘n kas in die gang gebêre.

“Hy het my daarna na die kombuis gevat, ‘n vleismes uit die laai gehaal en voor my kom staan en my ‘n soen op die lippe gegee. Toe los hy my net so.”

Du Plessis het ‘n paar minute gewag voordat sy haar man wakker gemaak en die bure om hulp geroep het.

Die Wonderboompoort-polisie is na die toneel ontbied.

Volgens ‘n inwoner, wat verkies om anoniem te bly, ervaar hulle verskeie inbrake en diefstalle by dié Tshwane-metro se aftree-oord omdat die hoofhek se motor al vir ‘n geruime tyd buite werking is.

“Sedert Desember is daar al nege motors gesteel en verskeie kere ingebreek. Die pensioentrekkers ly daaronder. As ons die hekmotor uit ons eie sakke wil herstel, dan word ons afgeraai omdat die hek aan die munisipaliteit behoort.”

Sy beskuldig die Tshwane-metro van nalatigheid omdat hulle nog nie die hek, nadat dit verskeie kere aangemeld is, herstel het nie.
Volgens adjudant-offisier Wanda Olivier, woordvoerder van die Wonderboompoort-polisie, ervaar die stasie ‘n toename in misdaad by dié aftree-oord.

“Tydens ‘n ondersoek wat deur luitenant Hennie Barkhuizen en raadslid Hendrik Fourie geloods is, is daar vasgestel dat ‘n oop hek die probleem veroorsaak.

Die aftree-oord behoort aan die metro en hulle is verantwoordelik vir die herstelwerk,” het Olivier gesê.
Sy het gesê die straatligte is ook buite werking wat ook ‘n bekommernis is.

Fourie het gesê dat hy vir ‘n geruime tyd besware rakende die aftree-oord ontvang het en dat hy die inwonerskommittee van die aftree-oord oor die stukkende motorhek genader het.

“Hulle wag vir die metro se aankoop-afdeling wat glo met die aflewering sloer. Intussen sluit hulle die hek met ‘n ketting en ‘n slot wat tydens inbrake afgeknip word,” het hy gesê.

Hy plaas nou druk op die metro om die motorhek en ook die hoë masligte te herstel.
Fourie, Wonderboompoort-polisie/GPF en die inwonerskommittee gaan dié week koppe bymekaar sit om die sekuriteit op te skerp.

“Ons wil ten minste vir hulle ‘n handradio gee sodat hulle vinnig om hulp kan roep indien dit nodig sou wees,” het Fourie gesê.
Die metro het teen druktyd geen terugvoer verskaf nie.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button