CrimeNews

Verdagte gearresteer vir ontvoering

’n Verdagte is gearresteer wat moontlik verbind kan word met die verdwyning van ’n vrou verlede week in Irene.

’n 35-jarige man is verlede week in Lyttleton in hegtenis geneem in verband met die vrou wat in Irene vermis geraak en later gevind is. Sy het naby die Smuts-museum met haar vier honde gaan stap.

Volgens polisiewoordvoerder Kolonel Katlego Mogale het die verdagte Donderdag reeds in die Centurion Landdroshof op aanklagte van verkragting verskyn. Die saak is uitgestel tot na die identiteitsparade wat nog moet plaasvind.

Honderde lede van Irene en omstreke het verlede Maandagaand bymekaargekom om na die vrou van in haar dertigs te soek, nadat sy nie voor donker teruggekom het nie, soos haar gewoonte was.

Volgens Frans Esterhuyse, ’n polisie-reservis by Lyttelton-polisie en ’n lid van Lyttelton sektor 3 GPF, het twee senior burgers wat in ‘n aftreeoord vir weermagveterane langs die Smuts-huismuseum woon, opgemerk dat twee van die vrou se honde verwilderd om haar voertuig gehardloop het sonder hul eienaar. Die voertuig was voor die aftreeoord geparkeer.

Toe die honde terug die veld in is maar in verskillende rigtings hardloop het die bejaardes besef dat iets verkeerd is, het Esterhuyse gesê.

Onder meer het lede van die GPF sektors 1 en 4, Lytteltonpolisie sektor 2, polisielede van Wierdabrug-polisiestasie en drie private reddingspanne aan die soektog deelgeneem. Soos die nuus versprei het, het meer mense van die omgewing met die soektog gehelp.

“Toe dit te donker word het ons die groepe herorganiseer,” het Esterhuyse gesê.

’n Sekuriteitsmaatskappy het ook ’n helikopter opgestuur in ’n poging om die vrou te vind.

Teen 21:00 het Esterhuyse die vrou teen die bult sien afstap. “Sy was verwilderd en verbouereerd en duidelik erg getraumatiseerd.” Die vrou is na die Unitas-hospitaal geneem.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button