“As dit in die aand gebeur het, het hulle ons verniel,” het die 92-jarige Sarel Venter gesê nadat hy met ’n skroewedraaier deur ’n huisrower in die gesig gesteek is.
Venter en sy vrou Pattie (91) is Vrydagoggend vroeg in hul huis in Lyttelton Manor deur twee rowers aangeval. Die rowers het die veiligheidshek van hul huis oopgebreek.
Pattie het in haar kombuis by die wasbak gestaan toe ’n hand oor haar mond gedruk is. “Hulle het my rondgepluk, my ringe van my vingers afgesteel en my oor die kop geslaan,” het Pattie, wie duidelik getraumatiseer is deur die voorval, gesê.
Haar man, Sarel, was in die badkamer waar die rowers hom ook aangeval het. Hulle het hom rondgepluk en op geld aangedring . Daarna het hulle die kaste in die hoofslaapkamer uitgegooi en op ’n kluis in die klerekas afgekom.
Toe Sarel nie vir hulle die sleutel van die kluis wou gee nie, het hulle hom in die gesig met ’n skroewedraaier op sy linkerwang gesteek. Die rowers het hom ook op die bed neergegooi en sy voete en hande vasgebind.
Nadat die rowers gevlug het, het Sarel daarin geslaag om homself los te woel en hulp te soek. “Hulle het ons selfone geneem en die huistelefoon ontkoppel. Ek was vol bloed en het hulpeloos gevoel omdat ek niemand kon bel nie,” het Sarel gesê. Hy het na sy buurvrou gegaan om hulp te vra. Die egpaar se kinders is in kennis gestel terwyl Sarel se buurvrou hom dadelik na mediese hulp geneem het. “Dis belangrik om goeie vriende met jou bure te wees sodat ’n mens op hulle kan staatmaak in ’n tyd van nood,” het Sarel gesê.
Sarel is ’n vriendelike man wat vir die gemeenskap omgee. Hy stap elke dag met sy loopring en bied kos aan vir hawelose mense en karwagte by die Lyttelton-winkelsentrum.
Sarel en Pattie is op 1 Februarie vir 67 jaar getroud en het vier kinders. Hulle het ook die voorreg gehad om sewe kleinkinders en twee agter-kleinkinders te sien grootword.
