Vreemde fietse kry voete
Eienaardige fietse wat sedert Augustus 2013 die Moot se aandag trek het verlede Donderdag spoorloos in Deerness verdwyn.
Twee uitsonderlike fietse wat al die pad vanaf Hong Kong ingevoer is, het verlede Donderdag in Deerness voete gekry.
Nieamatullah Rakeep, die eienaar, het gesê dat hy vir ’n geruime tyd met sy elektroniese motorhek gesukkel het. Hy het besluit om ’n slot en ketting te gebruik om die hek gesluit te hou, maar die tuinier het verlede week vergeet om die slot te sluit.
“Altwee fietse het daarna spoorloos verdwyn. Dit is spesiale fietse wat ek spesiaal aangepas het om my drie kinders te akkommodeer,” het hy gesê.
Rakeep en sy gesin het in Augustus 2013 vanaf Hong Kong na Deerness verhuis. Hy het die vier fietse saam met hom Suid-Afrika toe gebring.
Die fietse is op so ’n manier aangepas dat die een kind agter op Rakeep se rug sit terwyl die tweede kind agter op die fiets ry. Die derde kind sit voor by die stuurwiel. Albei gesteelde fietse is op dié manier verander.
“Ek het elke middag die kinders opgesaal en in die Moot se strate ingevaar. Mense het my gestop om foto’s van my te neem. Dit is indrukwekkende fietse en nou is dit weg,” het Rakeep gesê.
Die twee fietse beloop ongeveer R14 000 in waarde. Hy het gesê dat ’n beloning onderhandelbaar is vir die persoon wat die fietse aan hom terugbesorg.
’n Saak van diefstal is by die Moot-polisie gelê.
