Editor's choiceLocal newsMunicipalNews

Waterwese drup gal oor Afriforum se Blou en Groendruppel-projek

Die suiwerheid van Pretoria se water word bevraagteken.

Daar hang ‘n vraagteken oor die suiwerheid van Pretoria se verskeie watersuiweringswerke. Die hele stad se spruite sal dus getoets word.

Dit vorm deel van die onafhanklike landwye Blou en Groendruppel-waterprojek van Afriforum wat Dinsdag in Pretoria begin het en reeds die Departement van Waterwese se gramskap op die hals gehaal het.

Volgens Julius Kleynhans, die burgerregte-organisasie se hoof van omgewingsake, vorm die projek deel

van ‘n inisiatief om die gehalte van munisipale drinkwater en rioolafvalwater in AfriForum se 125 takke landwyd te toets.

“AfriForum wil vanjaar water in ons munisipaliteite monitor om te verseker dat die kwaliteit op standaard is, sodat die volhoubaarheid en bewaring van hierdie kritieke hulpbron bevorder kan word,” het Kleynhans gesê.

Hy het daaraan toegevoeg dat indien daar versuim word om aan standaarde te voldoen, daar druk

op munisipaliteite toegepas sal word om op te tree.

“Indien dit geen vrugte afwerp nie, sal regstappe teen die oortreders ingestel word,” het Kleynhans gesê.

Sy waarskuwing volg kort op die hakke van ‘n ernstige waarskuwing wat ook deur professor Duncan Baker, DA raadslid van die Tshwane-metro, aan die munisipaliteit gerig is, nadat rou riool in die Moreletaspruit gevind is.

Duncan het in sy vertoë aan die munisipaliteit daarop gewys dat rou riool van ‘n mangat op die hoek van Neveling en Mendelsohnstrate in Waterkloof Glen en ‘n voortdurende vloei van rou riool van ‘n rioolpyp in Aramistlaan en Takstraat in Menlyn, in ‘n hoof rioolpyp vloei wat in die Moreletaspruit uitspoel.

“Ek huiwer nie om die munisipaliteit se aandag daarop te vestig dat indien die munisipaliteit in gebreke bly om aandag aan die probleem te gee nie, dit ingevolge die waterwet ‘n kriminele oortreding is, het Duncan gesê.

Afriforum se Blou en Groen-waterprojek het die week by die watersuiweringswerke by Rooiwal, ten noorde van Pretoria begin. Watermonsters is geneem van water wat ná suiwering weer in die Apiesrivier vloei. Enkele ure nadat die projek begin het, het die Departement van Waterwese hul misnoeë daarteen uitgespreek.

Kleynhans het gesê dat water by al Pretoria se watersuiweringsaanlegte getoets sal word. Die volgende aanleg wat aan die beurt kom is die een by Sunderland Ridge en daarna sal die een by Pretoria Wes se water getoets word. Al die spruite in Pretoria – Moreletaspruit. Sesmylspruit, die Hennopsrivier en die Apiesrivier se water sal ook getoets word.

In die toets van die rivierlope word watermonsters geneem in die rivierlope bo die watersuiweringsaanleg en weer onder die watersuiweringsaanleg. Dit word gedoen om te bepaal in welke mate die aanlegte rivierlope besoedel. Die watermonsters word binne enkele ure nadat dit in gesteriliseerde bottels geneem

is, verskaf aan die South African National Accreditation Standards wat dit op hulle beurt deur ‘n onafhanklike gekrediteerde laboratorium verskaf vir toetsing. Die uitslag van die toetse sal op 17 Maart aan die media en die publiek bekend gemaak word.

“Ons het twee jaar gelede ook by Rooiwal watermonsters geneem van water wat na

suiwering weer in die Apiesrivier vloei. Ons het ná die monsters getoets is ‘n onrusbarende hoë e-Coli telling in die water gevind.

“Suid-Afrika staar ‘n krisis in die gesig weens die wanbestuur van ons waterbronne en infrastruktuur en dit kan nie langer geduld word nie. Ons kort politieke wil, bekwame finansiële- en infrastruktuur-bestuur en die samewerking van gemeenskappe in ons munisipaliteite om hierdie kritieke hulpbron volhoubaar te beskerm,” het Kleynhans bygevoeg.

Afriforum se Blou en Groendruppelprojek het nog skaars begin, maar het reeds van die Departement van Waterwese die wind van voor gekry.

“ AfriForum se projek om die kwaliteit van water te toets is misleidend. So ‘n aksie hou die moontlikheid in van regsaanspreeklikheid in en dit mislei die publiek omtrent die ware toedrag oor waterverskaffingregulasies en die monitering van die nakoming daarvan,” het Mava Scott, woordvoerder van die departement gesê.

Mava het die projek as “opportunisties” beskryf en gesê die soort toetsing van Afriforum fokus net op die analise van die water se kwaliteit wat net ‘n deel uitmaak van die Blou en Groendruppel oudit wat die departement op ‘n jaarlikse basis doen.

Hy het gesê dat Afriforum ministeriële toestemming nodig het om by instansies in te gaan om water te toets. Die wetlaat nie toe dat gewone burgerlikes toegang tot suiweringsaanlegte het om water te toets nie, tensy die minister skriftelik daarvoor toestemming gee, het Scott gesê.

AfriForum het dadelik op Scott se verklaring gereageer deur daarop te wys dat ondanks die departement se waarskuwing, die burgerregte organisasie sy projek sal voortsit.

“Die dreigemente van die departement sal ons nie stuit nie. Maar dit skep wel kommer oor wat werklik in

Suid-Afrika met waterbestuur aan die gang is,” het Kleynhans, gesê.

Hy het daarop gewys dat daar daagliks berigte oor waterdienste en die gehalte van water is. Die burgerregte organisasie se dinkwater-inisiatief is daarop gemik om mense bewus te maak van watergehalte. Eweneens ook om gewone Suid-Afrikaners betrokke te kry by die bestuur en bewaring van die kritieke hulpbron.

“Ons is teleurgesteld en verstom oor die departement se reaksie. ‘n Mens sou dink dat die departement hulp met die bestuur en bewaring van water sou verwelkom,” het Kleynhans gesê.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button