Pretoria se water is skoon
Afriforum se reeks toetse wys dat Pretorianers veilig aan sy water nog kan drink.

Dit is nou wel nie yskoue bergstroomwater of lafenis van diep uit die aarde nie, maar die gesuiwerde water van Pretoria voldoen aan standaarde. Dit blyk uit steekproewe wat AfriForum by ’n rits verskillende plekke geneem het en deur wetenskaplikes vir E. Coli en swaar metale getoets is.
“Ons het van meer as 120 takke landswyd watermonsters ontvang om die land se watergehalte te toets en afvalwater in die land te monitor. Drinkwater in Pretoria-Noord, Silverton, Montana, Moot, Kloofsig, Garsfontein, Centurion, Hercules, Erasmia, Cullinan en Rayton is skoon.
“Ons het toetse regoor die metro geneem wat aandui dat drinkwater gesond en op standaard is,” het Julius Kleynhans, hoof van omgewingsake by AfriForum, gesê.
Die burgerregte organisasie is wel bekommerd oor die gehalte van sekere rioolaanlegte wat nog nie op standaard funksioneer nie.
“Ons toetsuitslae het bewys dat die Leeuwfontein en Sutherland Ridge aanlegte se water op standaard gestort word. Die Rooiwalrioolaanleg en die Daspoortaanleg besoedel die Apiesrivier.
“Rooiwal stort water wat uit sowat 65 000 eenhede E. Coli per 100ml bestaan, terwyl die standaard minder as 1 000 E. Coli eenhede per 100ml moet wees. Dit is aansienlik beter die tellings wat AfriForum in 2011 geneem het,” het Kleynhans gesê.
Volgens Kleynhans het die burgerregte organisasie se Blou- (drinkwater) en Groendruppel- (rioolwater) aksie ten doel om die gehalte van drinkwater en behandelde water regoor die land te toets om nasionale standaarde te verseker.
“Die monsters is deur die onafhanklike South African National Accreditation System (Sanas)-geakkrediteerde laboratoriums getoets en die uitslae is geanaliseer,” het hy gesê. Hy het daarby toegevoeg dat ’n aksieplan vir ’n nasionale Blou- en Groendruppel-tak van stapel gestuur word en dat die uitslae van die onlangse toetse Maandag aan die departement van Waterwese oorhandig sal word.
