MunicipalNews

Swembad onder soeklig

Inwoners vrees dat ou munisipale swembad glo kriminele elemente na die Gezina omgewing lok.

‘n Ou munisipale swembad wat sedert 2001 in Gezina leeg staan is weer onder die soeklig nadat inwoners oor misdaad op dié gronde gekla het.

Selby Bokaba, woordvoerder van die Tshwane-metro, sê hulle het die swembad in 12de Laan, tussen Swemmer- en Haarhofstraat, oorspronklik gesluit omdat hulle dit wou opveil en verkoop. Die munisipale gronde is omhein en word gereeld skoongemaak.

“Ons het nog nooit enige klagtes oor die ou gronde ontvang nie, maar ons sal voortgaan om die gronde te onderhou terwyl bestuur oor die toekoms van die munisipale gronde besluit.”

Chirley Lottering, ‘n bekommerde inwoner, sê die gronde is onooglik en sy vrees vir misdadigers wat deur die lang gras gelok kan word.

Sy beweer dat daar reeds inbrake was sedert die gronde glo nie onderhou word nie.

Volgens raadslid Hendrik Fourie was daar ongeveer tien jaar gelede nog munisipale geboue op die gronde wat hulle laat sloop het. Sedertdien het hy nie veel klagtes ontvang nie.

“Ek sal die huidige klagtes by die metro aanmeld, maar die inwoners moet my steun deur ‘n petisie op te trek wat ek in die volgende raadsvergadering kan oorhandig.

Die petisie raak dan deel van die raadsagenda en dus word die probleem vinniger aangespreek,” het Fourie gesê.

Fourie sê inwoners moet ook net in ag neem dat Pretoria uitermatig baie reën die afgelope paar weke ondervind het wat aansienlik tot die vinnige groei van die gras bydra. Volgens Bokaba is die gronde op 23 Januarie laas onderhou.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button