Kleuter eet rotgif by restaurant
'n Drie-jarige seuntjie is in die hospitaal opgeneem nadat hy glo rotgif onder 'n tafel in die bekende Maxi's-ontbytrestaurant by die Wonderboom Junction-winkelsentrum opgetel en geëet het.
‘n Drie-jarige seuntjie is in die hospitaal opgeneem nadat hy glo dodelike rotgif onder ‘n tafel van die bekende Maxi-gesinsrestaurant in die noorde van Pretoria gevind en daarvan geëet het.
‘n Rustige Saterdagoggendontbyt by die Wonderboom Junction-winkelsentrum het in ‘n nagmerrie ontaard toe Rolandi Brenkman se spelende seuntjie onder die restauranttafel geklim het en ‘n boksie rotgif met blou pille gekry het voor hy van die gifpille in sy mond gestop het.
Brenkman het gesê sy was histeries toe haar seuntjie, Rinus, onder die tafel uitkom met blou vlekke om sy mond. “Toe ek sien my seuntjie se hele mond en tande is blou, het ek dadelik onder die tafel gekyk en ‘n leë boksie rotgif onder die tafel gevind,” het Brenkman gesê. Sy het onmiddellik ‘n dokter vir raad gebel. Die dokter het aangedring dat sy Rinus dadelik na ‘n hospitaal vir behandeling neem.
Volgens Brenkman het ‘n werker glo by die restaurant na hul tafel gekom en bevestig dat dit wel rotgif was wat onder die tafel gelê het.
Sy beweer dié werker het die boksie gevat en aan glo ‘n kelner gegee maar Brenkman het op pad uit aangedring dat hulle die boksie vir haar gee sodat sy dit aan die dokter kon wys.
Brenkman het inderhaas na die Eugene Marais-hospitaal gejaag waar Rinus by die noodeenheid opgeneem is. Hy is ondersoek en ‘n dokter het bevestig dat hy wel rotgif ingeneem het.
“Ons is nie seker hoeveel gif Rinus ingeneem het nie, maar hy sê hy het twee pille geëet,” het sy gesê.

Die dokter het Rinus ‘n houtskoolmengsel gevoer en ‘n vitamiene K inspuiting gegee. Rinus is daarna by die hospitaal gehou sodat die dokter hom kon dophou vir nierskade of inwendige bloeding. Die dokter het gesê hy is in ‘n stabiele toestand en het hom Sondagmiddag ontslaan.
Brenkman het gesê sy is dankbaar dat haar seun ongedeerd is. Ek is baie verlig en dankbaar dat my seun nie ernstige skade opgedoen het nie. Dit is baie gevaarlike tipe gif en op die boksie waarsku hulle selfs dat mens nie eens met jou blote hande die gif moet hanteer nie.”
Volgens Brenkman sukkel haar seun net om in die aande te slaap, maar anders is hy perdfris en gesond.
Sy het aan Rekord gesê dat sy woedend is oor die restaurant se nalatigheid. “Dit is onnodige pyn en lyding wat die eetplek my seun veroorsaak het. Ek wil graag mense bewus maak hiervan, om nog so ‘n geval in die toekoms te vermy.”
Brenkman oorweeg dit om regstappe teen dié restaurant te neem. Sy het ook gesê indien haar regsverteenwoordiger haar aanraai beplan sy om ook ‘n saak by die polisie aanhangig te maak.
Sy het intussen glo nog geen kontak met dié restaurant gehad nie.
Die bestuurder van die restaurant, Gerrit Huysamen, het dié voorval bevestig en aan Rekord gesê dat rotgif in die restaurant onder tafels gesit word omdat hulle onlangs ‘n rotprobleem ondervind het.
Volgens Huysamen het die restaurant nog nie met die ma kontak gemaak nie omdat sy glo nie haar selfoonnommer na die voorval by hulle gelaat het nie.
Hy het wel bevestig dat hulle met die ma wil praat om die saak te probeer uitsorteer.
Huysamen het gesê hy het nog nie die saak by die hoofkantoor aangemeld nie, maar beplan om dit so spoedig moontlik te doen.
Rekord het teen Woensdag kommentaar van Maxi’s hoofkantoor gekry. Klik hier om meer te lees.
