Restaurant stel ondersoek in na kleuter se vergiftiging
Ketting-restaurant vra om verskoning aan seun wat rotgif ingeneem het.
Die kettingontbytrestaurant, Maxi’s, het Woensdag aan Rekord bevestig dat ‘n ondersoek van stapel gestuur is nadat ‘n drie-jarige seuntjie onlangs rotgif in ‘n Maxi-restaurant by die Wonderboom Junction in die noorde van Pretoria geëet het.
Volgens Bronwyn Oliveira, bemarkingsbestuurder van Maxi’s, sal dié kettinggroep die nodige stappe neem om te verseker dat so ‘n geval nie herhaal word nie.
Dit volg nadat die drie-jarige Rinus Brenkman onlangs in die hospitaal opgeneem is kort na hy rotgif onder ‘n tafel in dié Maxi’s-ontbytrestaurant opgetel en geëet het.
“Ons is opreg jammer oor wat gebeur het en ons vra die Brenkman-familie om verskoning. Ons is bly om te hoor dat Rinus goed herstel. Dit is ons doel om te verseker dat elke kliënt wat ons restaurante besoek ‘n aangename ervaring het en daarna uit sien om terug te kom,” het Oliveira gesê.
Rinus het Saterdag saam met sy ma, Rolandi dié restaurant vir ontbyt besoek. ‘n Spelende Rinus het onder die restauranttafel geklim, ’n boksie rotgif met blou pille gekry en van die pille in sy mond gestop. Brenkman het gesê sy was histeries toe haar seuntjie, Rinus, onder die tafel uitkom met blou vlekke om sy mond. “Toe ek sien my seuntjie se hele mond en tande is blou, het ek dadelik onder die tafel gekyk en ’n leë boksie rotgif onder die tafel gevind,” het Brenkman gesê. Sy het onmiddellik ’n dokter vir raad gebel. Die dokter het aangedring dat sy Rinus dadelik na ’n hospitaal vir behandeling neem.
Die dokter het Rinus ’n houtskoolmengsel gevoer en ’n vitamiene K-inspuiting gegee. Rinus is daarna by die hospitaal gehou sodat die dokter hom kon dophou vir nierskade of inwendige bloeding. Die dokter het gesê hy is in ’n stabiele toestand en het hom Sondagmiddag ontslaan.
Volgens Oliveira is dit algemene praktyk vir restaurante om voorsorgmaatreëls te tref met betrekking tot knaagdiere en ander peste wat onvermydelik is wanneer dit by kos kom.
“Met dit in gedagte vereis ons dat ons restaurante van die gereelde dienste van betroubare plaagbeheermaatskappye gebruik maak om te help met die bestuur en die uitwissing van peste. Volgens die eienaar van die betrokke restaurant het hulle van ‘n plaagbeheermaatskappy gebruik gemaak. Die saak word tans ondersoek om te bepaal watter maatreëls deur dié maatskappy in plek gestel is en hoe die gif in ‘n openbare gebied beland het,” het Oliveira gesê.
Ronel du Toit, ‘n geregistreerde plaagbeheer spesialis wat haar eie plaaslike plaagbeheer sakeonderneming besit, het gesê rotgif moet onder geen omstandighede in ‘n restaurant agtergelaat word nie.
“Rotgif is baie gevaarlik omdat dit die bestandeel, Warfarin, bevat wat bloedstolling verhoed wat beteken dié wat dit inneem kan inwendige bloei,” het Du Toit verduidelik.
Sy het gesê rotgif moet in spesiale toegesluite hokkies, wat net deur plaagkenners oopgesluit kan word, buite ‘n lokaal gesit word. Hierdié hokkies moet buite die bereik van kinders en grootmense geplaas word.
Volgens Brenkman het Rinus geen blywende skade opgedoen nie. “Dit gaan goed met Rinus, hy kry net erge nagmerries maar verder vorder hy goed,” het Brenkman gesê. Sy het bygevoeg dat sy die saak tans met haar regsverteenwoordiger bespreek.
Dr. Marc Arend van Netcare Akasia-hospitaal het gesê indien enige persoon gif inneem moet hulle onmiddellik ‘n mediese reaksie-eenheid besoek.
Hy het gesê dit is ook baie belangrik om die gif te identifiseer voordat die persoon hospitaal toe geneem word.
“Elke gif is anders en het verskillende newe-effekte. Daar is geen spesifieke kos wat geëet kan word om die gif teen te werk nie. Melk en klein bietjie vloeistof kan gegee word.”
Hy het gesê behandeling by hospitale kan geaktiveerde houtskool en maagspoeling insluit.
Arend het gesê braking moet vermy word.
Lees ook>
Kleuter eet rotgif by restaurant
