
Centurion Christelike Laerskool (CCL) het vyf nuwe klaskamers ingewy tydens ’n dankfees op boomplant-dag. Danksy die bykomende klaskamers beoog die skool om optimale onderrig te verskaf, veral vir die bykomende leerlinge wat op 2015 se waglys is.
Met die ingebruikneming van die klaskamers op 12 April is meer as 25 bome op die skoolterrein in Clubview deur ouers en leerlinge geplant. CCL is ’n Afrikaanse Christelike privaatskool wat fokus op hoë gehalte Bybelgefundeerde onderrig.
Met ’n konstante groei sedert die stigting van die skool in 2002, het uitbreiding noodsaaklik geword en is die bykomende klaskamers en ablusiegerief opgerig. Die bykomende klasse sal die leerlinge op die waglys vir 2015 huisves. Die groter klasse verseker optimale onderrig vir die maksimum van 20 leerlinge per klas.
