Rodney Seale se advies aan ouers
Bekende spreker en skrywer, Rodney Seale, deel sy wysheid oor tieners met ouers.
In ons hedendaagse gejaagde lewens is dit so maklik om as gesin uit voeling met mekaar te raak. Daar is besige skedules, menigte naskoolse aktiwiteite, huishoudelike takies en sosiale lewens om in gedagte te hou, en dan is daar net 24 uur in ‘n dag.
Só sê die bekende spreker en skrywer, Rodney Seale.
Seale het die volgende menings aangaande gesonde verhoudings in gesinne, veral gesinne met tieners:
“In die verlede het elke geslag gebou op die kennis van sy voorgangers. Maar die vordering was stadig. Dink aan die pad wat ons gekom het: van die koolstof- tot die mikrogolfoond, van die buitenshuise koelkas tot die vrieskas, van kanonne tot satellietbeheerde kernwapens.
Vir meer as 30 jaar het ek letterlik met derduisende jongmense gesels. Daarom sal ek probeer om aan jou as ouer te verduidelik wat aan die gang is. Die tienergeslag het net soveel van gedaante verander as die tegnologie van ons tyd.
Vandag se mens weier dat daar grense aan sy kreatiwiteit gestel word. Dis veral op die gebied van inligting en kommunikasie waar die mees dramatiese ontwikkeling plaasgevind het. Tienjariges gesels oor rekenaars soos ons as kinders oor speelgoed en motors gesels het. Die sofistikasievlak van hulle besprekings en die gemak waarmee hulle oor die tegniese aspekte van dinge praat, is verstommend.
Die tiener se wêreld is baie groter as wat wat die ouer se wêreld was. Daar is ‘n groter verskeidenheid kossoorte, kleredrag- en musiekstyle, idees, boeke, televisieprogramme, vermaak en die lys gaan aan. Daarom is die ruimte vir verwarring baie groter.
En as ons deur ’n winkelsentrum stap, is dit vinnig in en uit, dalk gou vir 30 sekondes kyk na dit wat op die rak is, of hier vir vyf minute stilstaan. Net so is dit gou 30 sekondes by die Here ‘stilstaan’, en vyf minute kyk na die rugby.
Daar is verskeie faktore wat tieners beïnvloed – die media, internet, vriende. En soms is dit vir ouers onmoontlik om orals te wees. Tog is tieners desperaat vir riglyne. Hulle moet standvastigheid by pa en ma kan sien en leer.
Ouers moet ook selfondersoek hou. Wat is dit wat jy vir jou kind leer en wys? Ouers moet ’n goeie voorbeeld stel en ook bereid wees om te lees oor dié kwessies en om by ander te leer.
Wees streng en konsekwent, behou respek vir ouerskap en wees ’n voorbeeld.
As ouers het jy drie belangrike funksies:
Wees ’n voog. Dan help ouers hulle kinders om gesond groot te word. Jy is as voog wettig verantwoordelik om jou kind te versorg en te beskerm. Tieners beskik nie oor die wysheid om hulle eie lewens te beskerm nie, hulle doen voordat hulle dink. Baie kan ook nie onderskei tussen reg en verkeerd nie. Wysheid kom immers slegs deur ervaring. Wees ’n veilige hawe vir jou tiener waar hy wysheid kan leer. Jy moet ook net die regte hoeveelheid vryheid toelaat, want te min of te veel is ook nie goed nie.
Wees ’n bestuurder. Baie vermaaklikheidskunstenaars het bestuurders om seker te maak dat dinge gedoen word, die kunstenaar sy doel bereik en dissipline het. Net so moet jy jou kind bestuur en sorg dat sy doel bereik word. Jy moet leer om eise te stel. Jy moet jou kind selfdissipline en verantwoordelikheid leer. Dit sal jou kind help om verpligtinge na te kom, orde te handhaaf en vaardighede te ontwikkel.
Wees ’n bron. Tieners het geestelike groei, wysheid, liefde, ondersteuning en kennis nodig. En net jy kan dit vir hulle gee. Jy is jou kind se brug na die buitewêreld en moet hulle leer hoe om daar te funksioneer.”
