NewsSchoolsSport

Garsfontein skok Waterkloof met reuse sege op rugbyveld

Sommer van die eerste afskop af was dit duidelik dat Garsfontein se manne hoogs gemotiveerd is om hul langverwagte eerste oorwinning oor hul veelgeroemde bure te behaal.

Garsfontein se reuse oorwinning van 44-19 oor Waterkloof het ’n mens nogal laat dink aan daardie klein boetie in die gesin wat vir jare deur sy ouboet geboelie is. Op ’n dag het hy egter groot en sterk genoeg geword om terug te slaan en dié pakslae was vir ouboet nie net ’n reuse skok nie, maar ook ’n vernedering.

Verby is die dae van 100-0 oorwinnings vir Waterkloof oor hul bure so paar kilometer verder oos in Hans Strijdomrylaan af. Die Garsies se Bere het groot geword en Saterdag het hulle hul ouboet voor byna 10 000 toeskouers verneder, deur sewe drieë in te ryg, terwyl die Klofies self net twee keer agter die doellyn kon gaan kuier.

Sommer van die eerste afskop af was dit duidelik dat Garsfontein se manne hoogs gemotiveerd is om hul langverwagte eerste oorwinning oor hul veelgeroemde bure te behaal. Verlede jaar het hulle naby gekom, maar die Klofies kon die knoop in die laaste sekondes deurhaak. Hierdie keer het die Bere vroeg al seker gemaak toe hulle hul teenstanders binne die eerste halfuur van die wedstryd reeds geknak het.

’n Rooikaart teen een van Waterkloof se beste spelers, die hardwerkende flank, Juandré Michau, het die wedstryd boonop na net 15 minute al buite die Klofies se bereik geplaas. Of dié rooikaart werklik nodig was, is ’n ope vraag. Die skeidsregter het die beweerde oortreding – ’n “trap in die nek” nie eers gesien nie. Die betrokke lynregter wat dit uitgewys het, het later in die wedstryd ’n gek van homself gemaak toe hy wéér ’n Waterkloof speler wou uitwys, maar toe kom die skeidsregter agter dat die speler wat glo vuis geslaan het, dertig meter weg van die aksie was!

Hierdie onaangename voorval is egter nie die hoofrede waarom Garsfontein gewen het nie en dis veilig om te reken dat selfs die getrouste ondersteuner van die wenspan eerder die oorwinning daarsonder sou wou hê as hulle kon kies. Waterkloof was in die eerste helfte veral baie swak en hulle het grootliks tot hul eie ondergang bygedra met hanteerfoute, swak verdediging en slordige spel by die lynstane en die afskoppe.

Tot Waterkloof se krediet moet egter genoem word dat hulle nooit gaan lê het nie en veral na rustyd groot karakter getoon het deur die eerste twintig minute van dié helfte te oorheers, hoewel hulle nie op die telbord daarin kon slaag om terug te kom in die wedstryd nie.

Uiteindelik was Garsfontein egter net te sterk en te vaardig vir hul teenstanders. Selfs toe hulle  op ’n stadium met dertien manne moes speel weens geelkaarte vir hul agtsteman en hul losskakel, het hulle teruggekom in die wedstryd en in die laaste vyftien minute drie skitterdrieë ingeryg om by die vier van die eerste helfte te voeg.

Garsfontein het baie uitblinkers gehad. Voorlangs het die reuse slot, Jaco Bezuidenhout, veral uitgestaan met sy aggressiewe kragspel, terwyl die oud Springbok en Lions-afrigter, Johan Ackerman, se klong, Ruan, met ’n puik vertoning op flank gewys het dat daar Springbok gene in sy spiere is. Niemand was egter beter as die skrumskakel, Embrose Papier, nie. As die Bulle nog nie sy handtekening op ’n kontrak het nie, moet dit sommer Maandagoggend gebeur, want dié man het álles om ’n superster te kan word. Sy twee drieë, waarin hy met sy eerste breekslag sestig meter ver genael het en die tweede keer oor ’n selfs verder afstand die hele Waterkloof agterlyn laat lyk het soos karperde wat parkering soek, sal nog baie lank onthou word deur die toeskouers wat dit kon sien.

* Centurion het Saterdag vir nog ’n verrassing gesorg toe hulle Menlopark op laasgenoemde se tuisveld met 35-32 geklop het.

* Affies was vir ’n slag weer aan die wenkant in hul wedstryd teen King Edward School (KES) in Johannesburg. Die manne van Affies het maklik met 36-10 gewen.

* Ook in Johannesburg was Gauteng se twee bekendste Engelse seunsskole, Jeppe Boys High en Pretoria Boys High in ’n spannende stryd gewikkel. Jeppe Boys High het uiteindelik met 10-9 gewen.

* Ander uitslae van skolerugby kragmetings in Pretoria was soos volg: HTS John Vorster 22, Zwartkop 18; Die Wilgers 24, Midstream Kollege 17; Wonderboom 20, Montana 17 en Pretoria-Noord 22, Wagpos 15.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Koos Venter

Koos Venter is an experienced journalist who started his career 35 years ago, before the days of cellphones, modern computer systems, the internet and digital cameras, as a correspondent for Nexus, the former national magazine of the Department of Correctional Services. He has since worked for various other publications in all aspects of news coverage, as a columnist and in the production side of newspapers and online publications. Since 2007 he has specialized as a sports writer, while he is also regularly used as an analyst and commentator by several radio stations.
Back to top button