Oop mangate en riool ‘n probleem
Menslike ontlasting lê die hele pad vol in Jan Niemandpark weens oop mangate. Daarby skep dit ook 'n gevaar vir voetgangers en motoriste.
Om elke dag deur ’n pad vol menslike ontlasting te ry is nie grappies nie.
Vra maar net vir Abie Fourie wat elke dag vanaf Waverley na sy werk in Jan Niemandpark moet ry.
Die rivier van riool is ‘n probleem sedert vier van die mangatdeksels op die hoek van Klipspruit- en Henningstraat ongeveer twee maande gelede gesteel is.
Alhoewel inwoners en sakeondernemings die diefstal en rioolprobleem glo verskeie kere by die Tshwane-metro gerapporteer het, is daar steeds geen lig aan die einde van dié grillige tonnel nie.
“Dit is ’n verleentheid vir ons, veral as ons kliënte daar deur moet ry. Sekere tye van die dag stroom die riool die pad af. Ander dae lê die menslike ontlasting en toiletpapier oor die hele pad. Dit is ’n groot probleem vir ons,” het Fourie gesê.
Fourie sê dit is yslike gate en kinders kan baie seer kry as hulle daarin val, en motoriste kan groot skade ly.
Omdat die gesteelde mangatdeksels tot oop gate gelei het, het die eienaars van sakeondernemings ‘n plan gemaak om die gate vir motoriste te beveilig en het hulle buitebande daaroor geplaas om dit te bedek.
“Gelukkig het lede van die metro se padwerke die bande wit geverf toe hulle die straat se strepe kom verf het. Dus is dit sigbaar, maar ons is steeds bekommerd oor voetgangers en motoriste se veiligheid,” het Fourie gesê.
Die metro het na verskeie navrae nog geen terugvoer verskaf nie.


