MunicipalNews

Lynnwoodweg verloor sy Jakarandas

Inwoners in Lynnwoodweg was onlangs geskok oor die nuus dat die jakarandas in dié straat by die Universiteit van Pretoria uitgehaal gaan word.

Inwoners in Lynnwoodweg was onlangs geskok oor die nuus dat die jakarandas in dié straat by die Universiteit van Pretoria uitgehaal gaan word om plek te maak vir die Tshwane-metro se sneldiensbusroete.

”Dit is jammer dat die bome uitgehaal word, want dit is tog immers ‘n simbool van Pretoria. Die verkeersprobleem is groot kopseer en ek het begrip daarvoor dat dit gedoen moet word om die probleem op te los,” het professor Jackie Grobler, wat vlak langs die universiteit in Lynnwoodweg woon, gesê.

Blessing Manale, woordvoerder van Kgosientso Ramokgopa, die Tshwane-metro se burgemeester, het gesê dat die verwydering van sowat 200 bome in Lynnwoodweg onvermydelik is, maar dat die bome weer in Universiteitsweg en Atteburyrylaan langs die sneldiensbus se roete herplant sal word. Altesame 34 jakarandabome wat by Loftus en Afrikaanse Hoër Seunskool gestaan het, is reeds verwyder en in Festivalstraat naby die Shell-motorhawe hervestig.

‘n Ervare boomplanter van Tree Traders, Bossie van Rensburg, het daarop gewys dat die herplant van jakarandas sowat 99% suksesvol kan wees.

”Omdat jakarandabome uitheems is, mag dit nie langer in kwekerye gekweek word nie, daarom kan dit slegs verplant word. Met die verplanting van jakarandas moet ‘n mens natuurlik weet wat hy doen. Dit kos sowat R8 000 om ‘n enkele boom te verplant. Die bome moet teruggesnoei word sodat dit vervoer kan word en dan moet die wortelstelsel van die boom eers behandel word teen ‘n swaminfeksie. Na die herplant van die bome sal hulle minstens twee keer per week water moet kry. Die nasorg van die herplante bome is die belangrikste aspek om te verseker dat die bome weer sal groei,” het hy gesê.

Ondertussen is kontrakteurs van die metro reeds ‘n geruime tyd hard besig om die weg te baan vir die nuwe busdiens. Die konstruksiewerk is voorafgegaan deur ‘n reeks samesprekinge tussen die universiteit en die metro waartydens die universiteit sy kommer uitgespreek het oor die verwydering van die bome. Die laaste samesprekinge tussen AMCE, die konsultant belas met die ontwikkeling van die sneldiensbusprojek, en die universiteit het Donderdag plaasgevind. Tydens die samesprekinge is die toegangsroetes bespreek, maar die herplanting van die bome het nie ter sprake gekom nie.

”In een van die openbare deelnameprosesse wat verlede jaar gehou is, het die universiteit sy kommer uitgespreek oor die ontgroening van die gebied en het die projekleiers in latere samesprekinge gesê dat die bome vervang sal word. Ons het egter nog nie die finale planne gesien nie en weet dus nie tot hoe ‘n mate dit gedoen sal word nie,” het Nicolize Mulder, woordvoerder die universiteit, gesê.

Pretoria het tans sowat 70 000 jakarandabome wat hoog somer die stad onder ‘n pers kombers gooi. ‘n Eertydse stadsingenieur, Frank Walton James, het in 1909 begin met die grootskaalse aanplant van jakarandas langs Pretoria se strate. Sedertdien staan Pretoria wêreldwyd bekend as die Jakarandastad.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button