Staalhouer ’n seer oog
Die onderhoud van 'n staal-vullishouer van die Tshwane-metro kos ’n Rietfontein-egpaar meer as die oorspronklike huur van die houer self.
Vier maande later en R1 600 armer sit Lena Coetzee van Rietfontein nog steeds met dieselfde probleem.
Coetzee het in Februarie ’n massiewe staal-vullishouer vanaf die Tshwane-metro bestel en volgens die kontrak is die afsnytydperk, voordat die metro weer die houer kom verwyder, tien dae.
Maande later is dié houer nog steeds op presies dieselfde plek soos die dag wat dit afgelewer is.
“Die metro het aan my gesê dat as hulle die houer kom oplaai en dit is oorvol dan los hulle dit net daar. Dus het ek en my man seker gemaak dat die houer altyd vlakhoogte vol is, maar dit kos ons elke week ongeveer R100 om die oorloopvullis na die asgate te neem.”
Sy het gesê voetgangers gooi hul rommel in die houer en selfs tuindienste laai hulle tuinafval in die houer.
Die Coetzee-egpaar het in Junie 2013 van Pretoria-Wes na Rietfontein verhuis en was besig met verbouings aan die nuwe huis. Hulle het gedink dit sou makliker, en goedkooper, wees om ’n staalhouer by die metro te huur in stede dat hulle die bou- en tuinafval na die asgate toe aanry.
“Dit kos my tans meer om die houer vlakhoogte te hou as die huur self. Dit is belaglik. Ek bel die metro twee keer per week, maar ek kry telkens dieselfde reaksie – ons sal dit kom oplaai. Waar gaan dit eindig?”
Die metro het teen druktyd geen terugvoer verskaf nie.
