Taai mededinging in skolereeks
Terwyl Garsfontein vir die tweede week agtereenvolgens met een van sy ouer buurskole afgereken het in die Beeldtrofeereeks, het Centurion byna vir 'n opskudding teen Affies gesorg.
Die Beeldtrofeetoernooi vir skolespanne is tans in volle swang en die afgelope naweek se aksie het weer gesorg vir ’n paar interessante uitslae.
– In die wedstryd wat byna die skok van die seisoen opgelewer het, het die Afrikaanse Hoër Seunsskool (Affies) groot geskrik vir die aanslag van Centurion. Een strafdoel deur Affies se Eddie Fouché het Centurion uiteindelik daarvan weerhou om Affies te klop. Albei spanne het twee drieë gedruk, terwyl Centurion se Hendrik Mulder boonop albei sy span se drieë verdoel het. Fouché het egter daarin geslaag om drie strafdoele deur die mikke te jaag, terwyl hy een van sy doelskoppe gemis het.
Hierdie skopwerk was uiteindelik die verskil en Affies kon ’n groot sug van verligting slaak toe hulle uiteindelik met 21-20 gewen het. Centurion was teen rustyd nog met 17-12 voor en dit wou lyk of hulle twee weke na mekaar sou verras, nadat hulle verlede week ook teen alle verwagting met Menlopark afgereken het.
– Menlopark het ná die nederlaag verlede week baie hard probeer teen Garsfontein, maar hulle is uiteindelik deur ’n baie beter span met 41-29 geklop.
Dié twee spanne het egter vir ’n puik wedstryd gesorg wat tien drieë opgelewer het. Hoewel Menlopark nooit die aftog wou blaas nie en tot teen die einde bly veg het, was Garsfontein net te sterk en te vaardig vir die manne van anderkant die N1.
Garsfontein se voorspelers het in die vaste fasette oorheers en hoewel dit gelyk het of hulle energievlakke nie dieselfde was as die vorige week teen Waterkloof nie, het die Garsies tog met gemak gaan druk elke keer as hulle die geleentheid gekry het.
Garsfontein se spoedvraat op regtervleuel, Shakeel Frediricks, was sy span se ster met ’n driekuns. Voorlangs het die slot, Le Roux Roets, flank Ruan Ackerman en veral die haker en kaptein, Jan-Henning Campher, hard gewerk.
– In ander skolewedstryde van die afgelope naweek was die uitslae soos volg: Waterkloof 33, Helpmekaar Kollege 18; Pretoria Boys’ High 22, Parktown Boys’ High 15; Eldoraigne 33, Zwartkop 8; Oos-Moot 27, Gerrit Maritz 3; Pretoria-Noord 27, Overkruin 5.
