Kinders is die toekoms
Kinders is die land se toekoms en dus moet elke volwasse sy plig doen om hulle te ondersteun.
Elke kind het die reg om beskerm te word. En dit is die plig van elke volwassene om leiding te gee en beskikbaar te wees indien ‘n kind hulp nodig het.
Vierde jaar maatskaplike werk-studente aan die Universiteit van Pretoria en die maatskaplike werkers van die SAVF Moot het verlede week in samewerking met die polisie Kinderbeskermingsweek gevier deur 14 verskillende skole regoor Pretoria te besoek om leerlinge oor hul regte in te lig.
Die vyfdagprogram het by Robert Hicks Primary en by Laerskool Riviera afgeskop. Die studente het ’n praatjie oor die nagevolge van verkeerde keuses gelewer voordat die Moot-polisie met die graad 6- en 7-leerlinge oor boelies en dwelmgebruik gepraat het.
Githa de la Porte, ’n vierde jaar student en die projekleier, het die leerlinge vertel wie om te kontak indien hulle hulp nodig het en dat hulle enige probleem met ’n maatskaplike werker kan bespreek.
Marzaan Steenkamp, ’n maatskaplike werker van die SAVF Moot, het vir die leerlinge al die belangrike noodtelefoonnommers gegee en hul regte met hulle bespreek.
De la Porte het gesê dit is belangrik dat kinders moet weet watter rolspelers vir hulp gekontak kan word. Sy het ook gesê hulle wil hul bande met die onderskeie rolspelers in die gebied verstewig om sodoende proaktief teen kindermishandeling saam te werk.
Steenkamp het gesê dat maatskaplike werkers dikwels in ‘n negatiewe lig gesien word, maar dat hulle eintlik daar is om gesinne in moeilike tye by te staan. “Ons wil vir gesinne wys dat hulle nie alleen is nie, en dat daar mense is wat bereid is om ’n helpende hand uit te reik.”
