Hemelvaartviering maak impak
Die Hemelvaarttradisie van Laerskool Queenswood het vanjaar vir 'n merkwaardige gebeurtenis gesorg.
Die leerlinge en personeel van Laerskool Queenswood kon hul ore nie glo to hulle hoor dat hul Hemelvaarttradisie ‘n indruk op iemand in Bronkhorstpruit gemaak het nie.
Volgens Laerskool Queenswood is dit ‘n jaarlikse gebruik by dié skool om Hemelvaart, wat vanjaar op 29 Mei geval het, te vier deur heliumballonne met n bybelversie die lug in te stuur.
Jorina Morkel, woordvoerder van die skool, het gesê dat Hemelvaart elke jaar vir die leerlinge sowel as personeel ‘n groot gebeurtenis is.
“Ons skool se leuse is ‘glo en oorwin’ en ons hoop elke jaar dat die boodskappe iemand sal bereik en die boodskap van Jesus sal uitdra,” het Morkel gesê.
Die ballonne het glo ‘n verskil in die lewe van ‘n man van Bronkhorstpruit gemaak toe dié een van die ballonne op die golfbaan, waar hy hom bevind het, opgetel het.
Volgens die skool het die man in Desember 2013 sy werk verloor en juis vroeër die dag gehoor dat hy werk gekry het. Die woorde op die kaartjie wat die man gekry het, was: “Die Here is my Herder niks sal my ontbreek nie”. Dit was, volgens die man, op daardie oomblik die mooiste woorde wat hy ooit gehoor het, het die skool gesê.
Laerskool Queenswood is nie die enigste skool met so ‘n vaste tradisie vir Hemelvaart nie.
Volgens die Hoër Tegnies Skool John Vorster se hoof, Chris Steinmann, word die tradisie om 1 000 kleurvolle ballonne die lug in te stuur elke jaar sedert 1999 gevolg.
“Hemelvaart in JV-land is ‘n tradisie wat van krag tot krag sal gaan,” het Steinmann gesê.
Hemelvaart is deur verskeie skole regoor Pretoria met spesiale preke vir hul leerlinge gevier.
