Leerders verkies en ingehuldig vir 2014/2015
Die nuwe Junior Stadsraad van Pretoria kandidate vir 2014/2015 is onlangs verkies en ingehuldig
Tydens ‘n spoggeleentheid wat op 15 Mei in die Ou Raadsaal gehou is, is die volgende leerlinge tot die Junior Stadsraad-amp verkies en vir 2014/2015 ingehuldig. Hulle is Alicia Swanepoel (Hoërskool Menlopark), junior burgemeester; Rian Badenhorst (Hoërskool Garsfontein), onder-junior burgemeester; Mericia Els (Hoërskool Waterkloof), sekretaresse; Jeanre du Plessis (Hoërskool Hendrik Verwoerd), openbare betrekkingebeampte; Allen Stroebel (Hoërskool Pretoria-Noord), stadsklerk.
Die Junior Stadsraad van Pretoria (JCC) is ‘n nie-winsgewende jeugorganisasie wat die jeug en die gemeenskap van Pretoria dien. Die raad bestaan uit verteenwoordigers van 36 skole regoor Pretoria. Gedurende die jaar organiseer hulle onderskeie komitees vir verskillende funksies wat die jeug van Pretoria verenig en die grense tussen verskillende skole, rasse en kulture oorbrug. Die geld wat hulle insamel word aan ‘n liefdadigheidsorganisasie geskenk. Hierdie finansiële jaar ondersteun hulle Eleos en PEN.
Eleos is ‘n organisasie wat glo in ‘Genade in aksie’. Hulle help individue om hul fisiese, emosionele en geestelike welstand te hernu en voed ook kinders en volwassenes op oor hoe om nuwe perspektief oor hul omstandighede te kry en veranderinge daarin aan te bring.
PEN is ‘n organisasie in die stadskern van Pretoria wat die behoeftes van ‘n armoedige gemeenskap aanspreek. Hulle glo daarin om hul wysheid, waardes en hulpbronne te deel en bied opleidingsentrums, voedingskemas en mediese geriewe (klinieke) vir mense in nood. Hierdie jaar is dit hul doel as raad om aktief betrokke te raak by die gemeenskap deur middel van uitreikprojekte. Hulle gaan ook daarna streef om die jeug van Pretoria te verenig en ‘n gees van omgee in kinders se harte te kweek.
