Local newsNewsSchools

Wiskunde-klub leer kinders geheime boodskappe ontsyfer

Helpende Hand se wiskunde-klub het behoorlik vlam gevat onder die Moot se leerlinge.

Solidariteit Helpende Hand se wiskunde-klub het verlede week hul eerste dekoderingskompetisie vir leerlinge en onderwysers aangebied.

Vir die afgelope vier Maandae is die meer as 30 deelnemers geleer hoe om geheime boodskappe te dekodeer met behulp van kragtige wiskundige stellings.

Deelnemers moes teen mekaar meeding en poog om die geheime boodskap die vinnigste te ontsyfer. In die proses het hulle onder andere berekeninge met getalle wat meer as 770 syfers lank is, gedoen – dit is getalle wat te groot is vir ’n gewone sakrekenaar en wat nie sonder kragtige stellings gedoen kan word nie.

“Die metode wat deelnemers gebruik het, word wêreldwyd vir kodering gebruik en staan bekend as die RSA publieke kriptosisteem,” vertel dr. Danie Brink, uitvoerende direkteur van Helpende Hand. “Hierdie kriptosisteem is vernoem na die metode se drie uitvinders, Rivest, Shamir en Adleman.”

Die algehele wenner, Henning Noeth, ’n graad 11-leerling aan die Gereformeerde Skool Dirk Postma, het die boodskap in 46 minute ontsyfer en sodoende ’n iPad Mini gewen. Lourens van Niekerk van HTS John Vorster, Magdalena de Villiers van die Gereformeerde Skool Dirk Postma en ’n tuisskool-mamma, Mariette van Reenen, het elk ’n iPod Touch gewen deur ook die boodskap reg te dekodeer.

“Die wiskunde-klub, ’n projek van Helpende Hand se Vereniging vir Afrikaanse Wiskunde-onderwysers, gaan in die derde kwartaal voort om aan wiskundig-talentvolle hoërskoolleerlinge lekker en interessante wiskunde te leer,” het Brink gesê.

Belangstellendes kan meer oor die wiskunde-klub te wete kom deur www.skoolwiskunde.co.za te besoek of ’n e-pos na valentyn@helpendehand.co.za te stuur.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button