Local newsNewsSchools

Hoof spring in yskoue skooldam

Skoolhoof verloor weddenskap en betaal die prys.

Laerskool Danie Malan se skoolhoof het haar woord gehou na ‘n weddenskap en moes toe in ‘n yskoue dam spring omdat sy die weddenskap verloor het.

Leerlinge het hulle asem opgehou toe Hettie Smith Woensdag-oggend ‘n temperatuur van 3°C getrotseer het en in die skool se dam gespring het.

Smith het vroeër vanjaar ‘n weddenskap met die leerlinge aangegaan en belowe dat sy in die dam sal spring as hulle R150 000 met kaartjieverkope vir die jaarlikse karnaval sou insamel.

“Juffrou Hettie het haar personeel en leerlinge belowe dat as hulle R150 000 insamel, sal sy in die skooldam spring. Die geld is getel en ‘n verbysterende R150 580 is ingesamel,” het die skool se woordvoerder gesê.

Nie bang vir ‘n uitdaging nie, het Smith die koue water met haar duikpak en swemvlerkies getrotseer. Die skare leerlinge het die skouspel natuurlik geniet.

“Hoe lui die gesegde: ‘Beloftes maak skuld’,” het Smith spottenderwys gesê.

Sy het gesê dat sy die koue nie eers gevoel het nie, en dat sy die visse in die dam geïgnoreer het.

Smith het gesê dat sy trots op haar span is en dat sy reeds beplan met watter weddenskap sy hulle volgende jaar gaan uitdaag.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button