Vrou se tweeling amper ontvoer
'n Vrou vertel oor hoe haar vierjarige tweeling amper by 'n bekende winkelsentrum in Montanapark ontvoer is.

‘n Vierjarige tweeling is Maandagmiddag amper reg onder hul ma se neus ontvoer in ‘n bekende apteek by die Zambezi Junction in Montanapark.
Zindie Ribbink van Montana Tuine was by ’n bekende apteek by Zambezi Junction in Montanapark, met haar tweeling seun en dogter.
Ribbink was op soek na neussproei en het haar trollie, waarin haar kinders was, vir ‘n oomblik alleen gelos.
“Ek het my rug net vir ‘n paar sekondes gedraai en toe ek terugdraai is die trollie weg,” het Ribbink gesê.
Sy het gesê sy het benoud deur die winkel gekyk en kon die trollie met haar kinders nêrens vind nie.
“Ek kan nie verduidelik wat in daardie oomblik deur jou kop gaan nie.”
Sekondes later het Ribbink twee vrouens uit die winkel met die trollies sien loop. Die vrouens het haastig weggestap.
Sy het agterna gehardloop en die vrouens ingehaal wat met haar gestoei het toe sy die trollie wou terugneem.
“Hulle wou eers nie die trollie teruggee nie maar ek het die trollie uit haar hande geruk.”
Volgens Ribbink het die vrou rustig gesê sy wou net deur die trollie kyk.
Ek het terug na die apteek toe geloop en die besef het toe eers by my deurgedring dat my kinders amper ontvoer was.
“Mense moet op hul hoede bly in hierdie omgewing vir die twee dames wat jou kinders wil ontvoer,” het Ribbink gewaarsku.
“Ek is baie dankbaar ek kon my kinders terugkry.”
Ribbink skat die een vrou in haar dertiger jare en die ander ongeveer 50 jaar oud. Sy het bygevoeg dat beide die dames groot gebou is en het met ‘n wit VW Polo weggery met die nommerplaat: BW45PJGP.
Ribbink het ‘n saak van poging tot menseroof by die Sinoville polisiestasie aanhangig gemaak.
Die polisiewoordvoerder was nog nie beskikbaar vir kommentaar nie.
