Laerskool Garsfontein sal nie sy Christelike dogma prys gee nie
Verskeie skole en organisasies is ongelukkig oor die onlangse hooggeregshof-aansoek dat ses skole hulle Christen-identiteit moet prysgee.
Verskeie ouers, kerkleiers en die burgerregte organisasie AfriForum is ongelukkig oor die onlangse hooggeregshof-aansoek dat ses skole hulle Christen-identiteit moet prysgee.
Hans Pietersen, voorsitter van die organisasie vir godsdiensonderrig en demokrasie het sy aansoek by die hooggeregshof gemotiveer en gesê hy wil hiermee skoolkinders se grondwetlike regte beskerm.
Ingevolge die hofstukke word versoek dat enige verwysing na Christenskap in die volgende skole verbied word: Laerskool Garsfontein, Laerskool Baanbreker (Boksburg), Laerskool Randhart (Alberton), Hoërskool Linden (Johannesburg), Hoërskool Oudtshoorn (Oudtshoorn) en die Langenhoven Gimnasium (Oudtshoorn).
In die geval van Laerskool Garsfontein is gevra dat die skool die volgende verbied:
· Opening van ‘n skooldag met Skriflesing en gebed
· Verwysing na die drie-enige God in die skool se skoollied
· Onderrig van Christelike beginsels
· Besoeke van Jesus is Koning se verteenwoordigers aan die skool
· Bybel-verspreiding aan skoliere
· Enige Christelike dogma-onderrig aan graad-R kinders
· Sing van Christelike liedere en gebede
Louis Booyse, voorsitter van Laerskool Garsfontein se beheerliggaam het gesê die beheerliggaam is oorweldig deur ouers se weerstand teen Pietersen se planne. In ‘n omsendbrief aan ouers het Booyse die skool se standpunt gestel:
“Dit is met groot dankbaarheid en nederigheid dat die beheerliggaam ‘n onomwonde mandaat van die ouers gekry het om die voortbestaan en behoud van die skool se godsdiensbeleid te verseker. Die beheerliggaam sal nie terugdeins van die huidige uitdaging nie en sal alles moontlik doen om die skool se godsdiensbeleid met mag en mening te beskerm. Al die betrokke skole se hoofde en beheerliggaam-voorsitters vergader eerskomende Vrydag om ‘n gesamentlike strategie vir die pad vorentoe te bepaal.’’
Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum het gesê sy burgerregte-organisasie sal die skool se hofkoste betaal om Pietersen se aansoek teen te staan.
Valentyn van der Merwe, onderwysspesialis van Solidariteit se Helpende Hand, het gesê Pietersen se hofaansoek om godsdiens uit skole te weer, bloot ’n poging is om verdeeldheid te saai en reaksie onder die Christelike gemeenskap uit te lok.
“Dit is ’n bewese feit dat Afrikaanse skole deel uitmaak van die 10% volledig- funksionerende en effektiewe skole in ons land se onderwysstelsel. Hierdie skole se resep werk nog altyd om toppresteerders en waardevolle landsburgers te kweek. Hoekom iets regmaak wat nie gebreek is nie? Asof die skolestelsel in Suid-Afrika nie genoeg uitdagings het nie, probeer Pietersen nou ook om openbare skole se reg tot vryheid van godsdiens, oortuigings en menings te onderdruk.’’
Prof. Johan Beckman van die Departement Opvoedkunde aan die Universiteit van Pretoria het gesê Pietersen slaan die bal ver mis.
“Die reg van Godsdiensbeoefening word beperk op paar maniere. Die een is die beheerliggaam moet reëls daarvoor maak, die tweede is dit moet op ‘n billike basis gedoen word en die derde is dit moet vry en vrywillig wees. Beheerliggame het die reg om die missiestelling van die skool te ontwikkel”.
Vir meer gemeenskapsnuus, ‘like’ Rekord op Facebook en volg ons op Twitter.
