Local newsMunicipalNews

Nog ‘n onwettige stortingsterrein in Centurion

Centurion besoedel deur al hoe meer vullishope in woongebiede.

Inwoners van Centurion sit met ‘n probleem – al hoe meer onwettige stortingsterreine is besig om in woongebiede te ontstaan. ‘n Stortingsterrein in Gloverlaan veroorsaak probleme vir inwoners van Lyttelton.

Nou het nog ‘n stortingsterrein op die hoek van die Ou-Johannesburgpad en Estcourtlaan in Rooihuiskraal naby Chamberlain ontstaan, en dit lyk sleg.

Stukkende glasbottels, kragdrade, kartondose en melkbottels vorm deel van die gemors wat die omgewing besoedel. Daar is ook groot rotte wat in die vullishoop rondkruip.

Daar is verfblikke en ou stoele om ‘n uitgebrande vuur, wat aandui dat mense met tye in hierdie gebied bymekaar kom. Daar is ook kledingstukke wat aan hakiesdraad hang, wat vermoedelik aan die mense wat daar kom, behoort.

Inwoners het op sosiale media hul woede uitgespreek deur videos te plaas en raadslede om hulp gevra.

Raadslid Peter Sutton van die DA het bevestig dat hulle tydens die Streek 4-vergadering, op 9 September, die onwettige stortingsprobleem aangespreek het. Die proses om vullishope soos dié een skoon te maak neem ongelukkig tyd, want die Tshwane-metro moet eers ‘n tender uitsit sodat ‘n vullisvragmotor gehuur kan word om skoon te maak.

Sutton het ook gesê dat die metro nie net die probleme moet aanspreek nie, maar eerder die oorsaak van storting. Die problem wat tans ervaar word is dat sluipslapers in Centurion die vragmotors wat die vullis stort, help en betaal word om dit te doen. Hulle wag by die vullishope tot laat in die aand wanneer die vragmotors kom, en word ‘n klein fooi betaal om die vullis af te laai. Hy het ook gesê al die DA raadslede werk saam om die probleem op te los. “Verantwoordeliheid word nie gedelegeer nie.”

Ernest Gottschalk, omgewingsbestuurder van vullisverwydering wat die probleem van onwettige storting takel het ook aan Rekord bevestig dat hulle na beide onwettige stortingsterreine gaan kyk, en dit so gou as moontlik verwyder.

Een van die hoofoorsake van onwettige storting is dat die nabygeleë stortingsterreine soos Kwaggasrand in Laudium vol is, en toegemaak is. “As mense van enigiets ontslae moet raak, kan hulle na Onderstepoort-stortingsterrein gaan, of die privaat Mooiplaas-stortingsterrein langs Sunderland Ridge gebruik.

Alhoewel vullishope rondom Centurion gereeld skoongemaak word, gaan dit net aanhou tot die probleem met die sluipslapers opgelos word.

Vir meer nuus, volg ons op Twitter of besoek ons op Facebook.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button