Vrou het weer krag ná jaar sonder elektrisiteit
‘n Claremont-vrou het uiteindelik krag nadat sy vir ‘n jaar sonder krag gesit het.
‘n Claremont-vrou en haar gesin is verlig dat hulle weer krag het nadat hulle ‘n jaar lank sonder elektrisiteit gesit het.
Magda Labuschagne was verras toe Tshwane-metro drie weke gelede laat weet het dat hulle werkers op pad is om haar krag aan te skakel en ‘n voorafbetaalde meter te installeer.
“Ek was geskok die Woensdag toe die mans my bel want ek was daardie Maandag by die verhoor met metro en hulle het gesê ek moet my man se skuld betaal voordat hulle die krag aansit.”
Labuschagne worstel reeds vyf jaar met die Tshwane-metro om die kragrekening wat in haar man se naam was na haar naam oor te dra, nadat hy oorlede is.
“Ek moes R29 000 vir my kragrekening betaal en R83 000 vir my erfbelasting. Ek kry ‘n pensioen van R3 616 per maand en kon dit nie bekostig om die rekeninge te betaal nie. Ek het probeer om ‘n reëling met die metro te tref, maar hulle het geweier,” het sy verduidelik.
Sy sê sy het al hoop verloor om haar krag weer aangeskakel te kry, maar nou is haar gebede is verhoor. Sy het gedink dit was ‘n grap toe die metro haar bel om te sê hulle is op pad haar kragmeter te kom installer.
“Dit is die Here se wonderwerk. Ek is baie dankbaar aan al die mense wat dit moontlik gemaak dat ek ‘n voorafbetaalde meter kon kry. Ek gaan nog uitvind wat gebeur het. Ek wil ook baie dankie sê aan Rekord vir die hulp,” sê Labuschagne.
Rekord het ‘n paar maande gelede oor Labuschagne se penarrie berig.
Sy is opgewonde dat sy krag het en hoef nie meer buite op ‘n vuur kos of water te kook nie.
Vir meer nuus, volg ons op Twitter of besoek ons op Facebook.
