‘n Pretoria-vrou het Donderdag twee rowers in Silverton agternagesit en gehelp om een van hulle vas te trek nadat hulle haar buurman beroof en met ‘n baksteen aangerand het.
Tanya de Lange (25) en haar vriend, Ruan Lottering, is besig met verbouings op hulle perseel in Presidentstraat, langs hul buurman Frank Nichols (72), ‘n pensionaris.
Polisiewoordvoerder Adjudant-offisier Michael Mbewe, sê Nichols was het buite sy huis gesit toe een van die mans hom oorval en aangerand het. Nichols is met ‘n baksteen oor sy kop en bene geslaan.
Die rower het Nichols se beursie met R2 500 daarin en sy selfoon gesteel, terwyl sy makker buite die hek vir gewag het.
De Lange het omstreeks 12:45 by die perseel stilgehou toe een van haar werkers alarm gemaak het dat twee mans Nichols aangeval het. Die werker het aanvanklik gedink Nichols is dood.
“Ek het in my voertuig geklim, die mans ‘n ent verder in die pad af gesien en ‘n foto van hulle met my selfoon geneem,” het De Lange gesê.
Sy het die mans sowat vier blokke ver agtervolg en alarm gemaak toe ‘n Silverton-polisievoertuig daarlangs gery het.
De Lange het die foto van die twee mans na Lottering se werkgewer (AfriForum) gestuur waarna Ian Cameron, hoof van AfriForum-veiligheid, die foto op Twitter versprei het.
AfriForum het ook die Silverton-buurtwag ontbied en die polisie en buurtwag het ‘n dagsorgsentrum, waar een van die diewe op die dak geskuil het, omsingel. Hy is aangekeer en in hegtenis geneem.
Die aanvaller sal binnekort op aanklagte van roof en aanranding met die opset om ernstig te beseer in die Pretoria-landdroshof verskyn.
Die polisie soek nog na die tweede man wat weggekom het.
Nichols is in die Steve Bikho-hospitaal vir ‘n kopbesering opgeneem. Sy toestand is nog onseker.
Vir meer daaglikse nuus, besoek Rekord op Facebook en volg ons op Twitter.

