CrimeLocal newsNews

R10 000 beloning vir vermiste hond

Jaghond langer as 'n week steeds spoorloos.

Die eienaar van ‘n opgeleide jaghond, wat verlede Sondag uit die Brooklyn-winkelsentrum se parkeerterrein saam met ‘n bakkie gesteel is, bied ‘n R10 000 beloning aan vir iemand wat hom met sy geliefde hond kan herenig.

Jack (10), ‘n Duitse korthaar-apporteerhond, is ná langer as ‘n week steeds soek.

“Ek is baie hartseer,” sê sy eienaar Kobus Greeff van Lynnwood. “Ek is bang iemand het hom dalk in ‘n hok toegesluit en gebruik hom nou as ‘n veghond.”

Jack het verlede Sondagmiddag agterop Greeff se wit Land Cruiser-bakkie vir sy baas gewag toe die bakkie tussen 12:00 en 13:00 gesteel is.

Greeff sê beeldmateriaal by die sentrum wys hoe twee diewe by die valhek van die parkeerterrein uitry.

Hulle het ‘n ander voertuig deur die hek gevolg.

Jack kon nie afspring nie omdat die die bak met tralies toegemaak is.

Michelle Kriek, sentrumbestuurder, sê dit is kommerwekkend dat ‘n voertuig uit die parkeerterrein gesteel is.

“Tydens ons ondersoek het dit aan die lig gekom dat die diefstal duidelik deur ‘n ge­oefende groep gepleeg is. Verskeie individue in verskillende voertuie het saamgewerk om ons veiligheidswagte te ontduik,” sê sy.

“Ons sal die beeldmateriaal aan die polisie oorhandig en hulle ook op enige manier moontlik in die ondersoek ondersteun. Ons doen ‘n beroep op almal wat by die diefstal betrokke was, of wat die hond gesien het, om te help om die dier met sy eienaar te herenig.”

Die registrasienommer van Greeff se voertuig is XVG 360 GP.

Brooklyn-polisie stel ondersoek in. Enig­iemand met inligting kan die polisiekantoor by 012-366-1735/6 of die Stop Misdaadlyn by 086-001-0111 bel.

Vir meer nuus, volg ons op Twitter of besoek ons op Facebook.

Lees ook:

Man se ‘beste vriend’ gesteel

G’n spoor van geliefde Jack

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button