Local newsMunicipalNews

Hennops se water ‘n dodelike gevaar

Volgens AfriForum stel die onlangse ontleding die Hennopsrivierwater op dieselfde vlak as rou riool.

Meer as een miljoen eenhede E. coli per 100ml water kom in die Hennopsrivier voor. Volgens AfriForum stel die onlangse ontleding die rivierwater op dieselfde vlak as rou riool.

‘’Die toelaatbare standaard is slegs 1 000 eenhede per 100ml en ons eis daadwerklike en behoorlike rioolbestuur,” het Julius Kleynhans, AfriForum se hoof van omgewingsake gesê. Die burgerregte-organisasie het sedert verlede jaar verskeie watermonsters uit riviere en watersuiweringswerke in en om Pretoria geneem.Sowat 1 000 gesigsmaskers is onlangs aan besoekers by Centurion Mall uitgedeel in ‘n poging om die publiek bedag te maak op die skrikwekkende hoë vlak van besoedeling van die rivier wat voor die koopsentrum se vele eetplekke verby loop.

Die masker-veldtog wil ook die burgerregte-organisasie se veldtog ’’GevaarHennops” bekendstel deur ‘n sms-boodskap ”Hennops” en jou naam na 45341 te stuur om steun vir die veldtog te werf.

Volgens Leandri Streit, provinsiale koördineerder vir AfriForum in Gauteng-Noord, is dit tyd vir dringende optrede.

“Daar was nou genoeg leë beloftes. Soos ons nou sien met die watertekorte in Gauteng, is water ‘n skaars en kosbare bron wat bewaar en nie besoedel moet word nie,” het Streit gesê.

AfriForum het watermonsters in die Hennopsrivier geneem voordat die water Centurion bereik. Kleynhans het gesê die uitslag toon dat daar meer as 1 000 000 eenhede E. coli per 100ml in die water teenwoordig is.

‘’Dit is die hoogste telling van al die riviere in en om Pretoria wat ons al getoets is, wat dit op dieselfde standaard as rou riool stel,’’ het hy gesê.

Volgens Kleynhans, is waterbesoedeling ’n strafregtelike oortreding.

“Daar is al direktiewe deur die departement van waterwese uitgereik wat eenvoudig ignoreer word. Die besoedeling van ‘n waterbron bedreig die hulpbron, ekosisteem en enige person wat daarmee in aanraking kom, se gesondheid. AfriForum gaan strafregtelike klagtes teen die munisipale bestuurders van die Tshwane, Johannesburg en Ekurhuleni Metro Munisipaliteite indien. Die gebrek aan politieke wil, verantwoordelike bestuur en regulering bedreig hierdie kritiese en noodsaaklike hulpbron landswyd en moet onmiddellik gestaak word,” het hy gesê.

Vir meer nuus, volg ons op Twitter of besoek ons op Facebook.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button