CrimeNews

Kabeldiewe vergiftig honde

Kabeldiewe vergiftig honde in Bohlmanstraat voor hulle kabels steel.

Agt honde is onlangs in Bohlmanstraat, Daspoort vergiftig voordat kabeldiewe toegeslaan het.

‘n Inwoner, Chantelle van Dalen, het aan Rekord gesê die mense wat die honde vergiftig het, het by hulle huis begin en eerste hulle twee honde vergiftig.

“Dit was stil vir ‘n week nadat ons honde vergiftig is. Daarna is daar elke aand ‘n hond vergiftig tot die kabels gesteel is verlede Woensdag.”

Van Dalen sê hulle het polonie en Aldicarb (two step) in haar buurman se erf gekry. Die laaste huis waar ‘n hond vergiftig is, is by die plek waar die kabels gesteel is. Dit het al die omliggende huise se kragtoevoer geraak.

“Ek het die voorvalle by die polisie aangemeld. Die eerste keer toe ons honde vergiftig is, het die polisie gesê hulle sal seker maak hulle patrolleer gereeld in ons straat. Nadat die kabels gesteel is en agt honde is vergiftig, was ek weer by die polisie en hulle het gesê hulle sal die voorvalle ondersoek,” sê van Dalen.

Volgens Hercules polisie se woordvoeder, kaptein Bonginkosi Msimango, weet hulle dat Bohlmanstraat die aflope weke geteiken is.

“Daar is nie baie sake van hondevergifting wat ons kry nie maar ons weet van een straat wat geteiken was en waar kabels gesteel is. Ons is besig met die saak en daar is nog geen verdagtes nie,” het Msimango gesê.

Hy sê ook dat inwoners versigtig moet wees om enige iemand te huur om in hul erwe te werk.

“Inwoners moet mense wat hulle aanstel se profiel nagaan. Baie honde raak gewoond aan ‘n persoon wat gereeld op die erf is en wanneer so ‘n persoon die honde kos gee, vreet hulle dit. Mense wat tydelike werkers aanstel loop die risiko om boosdoeners toegang tot hul eiendom te gee. Dit kan sulke mense wees wat honde vergiftig omdat hulle reeds ‘n plan het om te steel,” verduidelik Msimango.

Hy sê die polisie is sigbaar en hulle waarsku mense om versigtig te wees met die aanstelling van tydelike werkers.

Die Suid-Afrikaanse nasionale burgerlike organisasie (Sanco) voorsitter, Nagesh Chetty het gesê om agt honde te verloor is nie net dieremishandeling nie, maar toon dat boosdoeners ook die huise wil beroof.

“Ons doen ‘n beroep op die polisie om asseblief meer patrollies in die Pretoria-Wes en Hercules-areas te ontplooi. Misdadigers is besig om hier oor te neem. Pretoria raak nou ‘n hoë risiko plek om te woon,” het ‘n inwoner gesê.

Vir meer nuus en opvolge, ‘like’ Rekord se Facebook-blad en volg ons op Twitter.

Lees ook: Criminals target dogs before breaking in

Vermeende kabieldief doodgeskok

Cable thieves at it again

 

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button