Vier gewapende mans is deur ’n dapper skoolhoof en motoreienaar in hul spore gestuit nadat hulle ’n motor voor Laerskool Rachel de Beer in Pretoria-Noord wou steel.
Petra Smit, die motoreienaar, het Dinsdagoggend omstreeks 10:00 papierwerk by die skool afgelaai toe dié rowers haar wit Jetta 3 wou roof. Die motor se agterruit is uitgeslaan en die deurslot aan die bestuurderskant is oopgebreek.
“Toe ek buite kom het ek een man in die bestuurderskant en ’n ander een buite die motor aan die passasierskant opgemerk. Ek het op hulle gegil waarna hulle ’n vuurwapen op my gerig het. Ek het groot geskrik,” het Smit gesê.
Sy het dadelik om hulp geroep en wéér uitgehardloop om die rowers weg te jaag. Die rowers het vir die tweede keer die vuurwapen op haar gerig, maar geen skote afgevuur nie.
Die hoof, Hansie Holtzhausen, het Smit se gille gehoor en dadelik tot haar hulp gesnel.
“Ek het gehoor hoe die rowers die kar aanskakel en toe ek nader hardloop het al die rowers in die wegkomvoertuig gespring. Die een rower het deur die venster geleun en die vuurwapen op ons gerig,” het hy gesê.
Holtzhausen het gemaak asof hy ’n vuurwapen agter sy rug uithaal waarop die rowers weggejaag het.
Smit vermoed die rowers hulle net wou afskrik, maar albei is dankbaar dat daar niks ergers gebeur het nie.
Dit sou die tweede voertuig van Smit gewees het, wat gesteel is.
Vir meer nuus, besoek Rekord se Facebook-blad en volg ons op Twitter.
