CrimeNews

Man weer op vrye voet na mislukte inbraak

Man vry na mislukte inbraak.

Heatherdale inwoners is ontstoke nadat ‘n man in hegtenis geneem en later weer vrygelaat is nadat hy Vrydagmiddag by ‘n huis in Boundary-weg probeer inbreek het.

Karel Botha, ondervoorsitter van Sektor 3 gebiedspolisiëringsforum (GPF), sê die man het oor ‘n geëlektrifiseerde heining gespring en die perseel se alarm geaktiveer. ‘n ADT-reaksie-eenheid het die inbreker in die erf vasgekeer, maar hy het weggekom en oor die heining ontsnap.

‘n Buurtwaglid het die man agtervolg en probeer vastrek toe hy van die brug wou afspring waar Renestraat en die Bakwena-snelweg kruis. GPF-lede het die buurtwaglid te hulp gesnel en die inbreker in hegtenis geneem.

GPF-lede het die man teruggeneem na die huis waar hy probeer inbreek het. ADT en die huishulp het die inbreker as die verdagte geïdentifiseer.

Virgel Dewey, ‘n GPF-lid, wat ook teenwoordig was toe die inbreker geïdentifiseer is, sê hulle het dadelik die Akasia-polisie gekontak en gewag tot die verdagte weggeneem is. Almal, insluitende die inwoners van die huis is toe na die Akasia polisiekantoor.

Botha sê die man is omstreeks 15:30 deur die polisie weggeneem, maar dat hy omstreeks 17:00 ‘n oproep van een van sy werkers ontvang het om te sê die polisie het die verdagte weer vrygelaat.

“Ons is hoogs onsteld want indien ons en ADT nie gereageer het nie, het die man sekerlik ingebreek, maar nou is hy klaar weer op vrye voet? Hoe werk dit dan?”, het Botha gesê.

Die polisie het geen komentaar gelewer nie.

Botha sê hy en die ander lede van die GPF is bitter onststeld en gaan die saak opvolg.

Vir meer daaglikse nuus, ‘like’ Rekord op Facebook en volg ons op Twitter.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button