CrimeNews

Aanvallers steeds gesoek

'n Dominee en sy verloofde is Vrydag aangeval toe hulle na die sonsondergang op Fort Klapperkop wou gaan kyk en piekniek hou.

Nog niemand is in hegtenis geneem nadat ‘n dominee van die Gereformeerde Kerk in Pretoria-Wes en sy verloofde onlangs by Fort Klapperkop aangeval is nie.

Ds. Nikolaas Pienaar (29) en sy verloofde, Hanlie Kruger (23) het verlede Vrydag (26 September) by Fort Klapperkop gaan piekniek hou en na die sonsondergang kyk, toe hulle deur drie onbekende mans oorval is.

Pienaar is tydens die aanval met ‘n mes gesteek en moes ‘n operasie ondergaan om die ligamente in sy linkerhand te herstel.

Hy het sy verloofde Vrydagmiddag by haar Tukkie-koshuis gaan oplaai.

“Ons het by die eerste uitkykpunt gestop en met ons piekniekmandjie uit die kar gelim. Ons was nog besig om dit uit te pak toe ek voetstappe naby ons hoor.”

Volgens Pienaar het hy omgedraai en drie mans naby die kar gesien.

Pienaar sê een van die mans het op hom afgestorm en hom met ‘n mes gesteek. Hy sê hy moes vir sy lewe veg.

“Een van die mans het Hanlie gegryp en haar horlosie afgeruk. Die ander wou in my motor klim, maar het uiteindelik weggehardloop toe fietsryers gelukkig daar verby gekom het.”

Pienaar is na die Zuid-Afrikaanse-hospitaal gebring voordat hy vir ‘n operasie by Medi-clinic Kloof opgeneem is. Hy is Sondag uit die hospitaal ontslaan. Kruger is nie in die aanval beseer nie.

Pienaar het Donderdag aan Rekord gesê dit gaan baie beter met hom. Hy sterk aan by die huis.

Sunnyside polisie woordvoeder, Sersant Asnath Malatsi het gesê hulle is besig met die ondersoek en daar is nog niemand in hegtenis geneem nie.

“Ons patroller Fort Klapperkop gereeld en waarsku mense om nie daarheen te gaan nie, maar hulle gaan steeds. Ons is besig met die saak,” het Malatsi gewaarsku.

Vir meer nuus, besoek Rekord se Facebook-blad en volg ons gerus op Twitter.

Lees ook: Woman injured after hijacking

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button